De Kock sê AB was op koers vir T20-terugkeer

AB de Villiers in aksie vir Middlesex. Foto: Facebook.

Die Protea-kaptein in witbalkrieket, Quinton de Kock, het in ’n onderhoud met Star Sports gesê dat AB de Villiers moontlik ’n terugkeer tot die internasionale arena by die T20-Wêreldbeker in Australië sou gemaak het.

Weens die Covid-19-pandemie is dié internasionale mik-en-moker-skouspel egter nou tot 2021 of 2022 uitgestel.

“Die raad het ingestem om die veranderende situasie te monitor en al die beskikbare inligting te oorweeg sodat ’n ingeligte besluit geneem kan word rakende die aanbieding van internasionale toernooie in 2021 en in 2022,” het die Internasionale Krieketraad vroeër in ’n verklaring gesê.

De Kock sou egter daarvan gehou het om die 36-jarige De Villiers terug in die Protea-kleure te hê.

Die talentvolle kolwer het in 2018 sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig, maar hy is steeds een van die mees verwoestende kolwers in wêreldkrieket. Hy is onder meer onlangs deur kenners as die beste kolwer in die geskiedenis van die Indiese Premierliga aangewys.

In die afgelope 3TeamCricket-wedstryd op SuperSportpark – wat weliswaar deur die Black Lives Matter-beweging oorskadu is – het hy ’n blitsige 61 lopies van slegs 24 aflewerings gemoker.

Veral sy trekhou op die voorvoet van Anrich Nortjé se boulwerk het gewys dat hy niks van sy skerpheid verloor het nie

“As hy fiks genoeg was, sou ek mal daaroor gewees het om AB de Villiers in die span te hê,” het De Kock gesê.

“Trouens, ek dink enige span sou mal daaroor gewees het om AB in hul span te hê. Ons het gewerk om hom weer deel van die opset te maak, maar ons sal nou moet sien wanneer die T20-Wêreldbeker plaasvind.”

Ten spyte van ’n bobaasrekord in witbalkrieket – hy het ’n gemiddeld van 37,15 in T20-krieket, terwyl hy sy lopies teen ’n treftempo van 149,77 slaan – het hy nog nie ’n internasionale trofee gewen nie.

De Villiers het destyds met die aanvang van die Big Bash League in Australië gesê dat hy graag deel van die Wêreldbekerplanne wil wees, maar dat daar nog eers baie water onderdeur die brug moet vloei voordat dit ’n werklikheid word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Wie gee om?

stargazer

Dit maak nie meer saak nie. Ons gee nie meer om nie