De Kock se honderdtal, boulers laat Sri Lanka steier

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Suid-Afrika het Sri Lanka Dinsdag na die tweede dag van die tweede toets op Nuweland teen die planke gehad na ʼn skitterende honderdtal van Quinton de Kock en puik boulwerk deur die Proteas.

Die tuisspan is vir 392 lopies uitgehaal en het toe onder Sri Lanka se kolwers gemaai om hulle vir 110 uit te haal – ʼn eerstebeurt-voorsprong van 282 lopies. Faf du Plessis het egter besluit om Sri Lanka nie te laat opvolg nie, en aan die einde van die tweede dag was die Proteas op 35 sonder verlies in hulle tweede beurt, reeds 317 lopies voor.

Dit is ʼn goeie aanduiding van hoe die Suid-Afrikaanse span verbeter het. In Augustus verlede jaar het Australië al drie toetse in die reeks teen die einste Sri Lanka verloor.

Dit was weliswaar vir die Aussies drie wegtoetse, maar die marge van die loesings is op sigself ʼn aanduiding dat Sri Lanka as span nie te versmaai is nie. En nou kry hulle groot slae teen die nuwerige span van Suid-Afrika.

Sri Lanka toer egter selde goed, en die baie sterk wind – plek-plek tot 50 km/uur – het hulle boulers wat Maandag uitstekend begin maar toe in die hitte uitgesak het, duidelik beïnvloed.

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

♦  De Kock het Dinsdag kom kolf met sy oornagtelling van 68 in ʼn beurt wat Maandag reeds gewys het dat hy groot planne het.

Hy het geen tyd verspil nie, en Dinsdag sy derde honderdtal gekry met ʼn gelukkige skuinshoutjie van die kolfrand af, maar sy 101 met 11 viere in sy beurt wat net 124 balle geduur het, het sy span nóg stewiger in die saal geplaas.

Keshav Maharaj (32 nun), Kyle Abbott (16) en Vernon Philander (22) het hier teen die einde van die beurt ook hulle deel gedoen en op 392 almal uit was Sri Lanka onder yslike druk.

Die 19-jarige Lahiru Kumara was die beste van Sri Lanka se boulers en het met 6/122 die eerste keer vyf paaltjies in ʼn kolfbeurt geneem.

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Sri Lanka het goed begin. Hul aanvangskolwers Dimuth Karunaratne (24) en  Kaushal Silva (11) het vir ʼn aanvangsvennootskap van 31 beurte vasgebyt en op 56/1 was Sri Lanka nog in die prentjie.

Dit was Kagiso Rabada wat hulle toporde verwoes het. Hy het die aanvangskolwers en ook vir Angelo Mathews en Dinesh Chandimal uitgehaal en op 78/6 het Sri Lanka werklik gesteier.

Of dit nie genoeg was nie, het Philander toe binne twee boulbeurte vier paaltjies geneem, die laaste twee met opeenvolgende balle. Hy het dus met sy eerste bal in Sri Lanka se tweede kolfbeurt die kans om ʼn driekuns te behaal.

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Rabada het 4/37 geneem, Philander 4/27 en Maharaj 2/32. Abbott het wel nie ʼn paaltjie geneem nie, maar sy agt boulbeurte vir net nege lopies het groot vroeë druk op Sri Lanka geplaas en meegewerk aan hulle uiteindelike kolfoorgawe.

Woensdag sal na verwagting ʼn baie warm dag in Kaapstad wees, en Sri Lanka, reeds met hul sterte tussen die bene, sal daardeur onder nog groter druk geplaas word.

Die Proteas sal na verwagting kort voor, of teen, teetyd met ʼn voorsprong van sowat 500 lopies verklaar en dan waarskynlik die reekssege beklink wat hulle na derde plek op die wêreldranglys sal laat opskuif.

Opgesomde telkaart –

Suid-Afrika (eerste beurt): 392 (Kolwers: Stephen Cook 0, Dean Elgar 129, Hashim Amla 29, JP Duminy 0, Faf du Plessis 38, Temba Bavuma 10, Quinton de Kock 101, Kyle Abbott 16, Vernon Philander 20, Keshav Maharah 32*, Kagiso Rabada 8. Boulers: Lahiru Kumara 6/122, Sumara Lakmal 2/93, Rangana Herath 2/57)

Sri Lanka (eerste beurt): 110 (Kolwers: Dimuth Karunaratne 24, Upul Tharanga 26*, Dhananjaya de Silva 16. Boulers: Vernon Philander 4/27, Kagiso Rabada 4/37, Keshav Maharaj 2/32, Kyle Abbott 0/9)

Suid-Afrika (tweede beurt): 35/0 (Kolwers: Stephen Cook 15* , Dean Elgar 19*)

Suid-Afrika is na die tweede dag se spel op Nuweland 317 lopies voor met al tien tweedebeurt-paaltjies staande

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos1 ·

Hoe lekker is dit nie om te kyk wat die Proteas vermag.
Ieder en ‘n elk sal met my saam stem dat in my opinie dit die beste span is wat vir SA kan speel, en hulle haal ook nog die “kwotas” soos vasgestel. Ek verwys geensins na enige speler as ‘n kwota speler nie. Almal is daar om verdienste.
Ek ondersteun vir De Kock en Bavuma ewe sterk, en dis hoe dit in ons sport moet gaan. Nie soos die sirkus wat tans in die SA Rugby aan die gang is nie!
Proteas, baie goed gedoen en looi die Sri Lanka span nou maar goed, soos julle met die Aussies gedoen het.
Baie Dankie Krieket SA vir julle leiding en bestuur. Kan Rugby SA asb. bietjie by julle kom leer oor hoe dit gedoen kan word om die regering en die ondersteuners tevrede te kan stel en hou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.