Die Proteas se nuwe eendagkrieket-kaptein Quinton de Kock het gisteraand met die meeste pryse by Krieket Suid-Afrika se virtuele toekenningsgeleentheid weggestap.
Dié aggressiewe speler is onder andere as Suid-Afrika se krieketspeler van die jaaar, toetsspeler van die jaar en die spelers se gunstelingkeuse aangewys.
In ʼn jaar waar die Proteas vroeg uit die Wêreldbeker-toernooi in Engeland geboender is, hulle toetsreekse teen Indië en Engeland verloor het en om nie eens van die administrasie-fiasko met Thabang Moroe te praat nie, was De Kock die helder lig aan die einde van ʼn baie donker Protea-tonnel.
Hy het veral ná die rampspoedige Wêreldbeker sy stempel met die kolf afgedruk en hy was die voorste lopiemaker in die toets- en eendagreeks teen die Engelse toerspan. In die T20-reeks het net Eoin Morgan meer lopies as hy geslaan.
Hy het ook sy voete as kaptein teen Australië gevind. Die Proteas het onder sy leiding die reeks met 3 – 0 beklink, terwyl jong sterre soos Kyle Verreynne en Janneman Malan hul kanse in die De Kock-era benut het.
“Quinton is tans die voorste paaltjiewagter/kolwer in toetskrieket; hy is trouens een van die beste kolwers in rooi- en witbalkrieket. Die afgelope ruk het hy ook sy staal as kaptein van die span gewys,” het dr. Jacques Faul, KSA se tydelike uitvoerende hoof, gesê.
Dan is die blitsige Anrich Nortjé as die Proteas se nuweling van die jaar aangewys. Dié 26-jarige Oos-Kapenaar het met sy vaart die Engelse kolwers laat bontstaan en hy is beloon met sy eerste oes van vyf paaltjies in ’n toetsbeurt. In sy ses toetse het hy 19 paaltjies teen ’n gemiddeld van 35.10 geneem. Maar in dieselfde tydperk kon slegs Kagiso Rabada (21 paaltjies teen 32,85) beter as hy vaar. Keshav Maharaj het 16 paaltjies teen 61,06 geneem.
Lungi Ngidi – wat veral in die witbalreekse teen Engeland en Australië uitgeblink het – is die Proteas se eendag- en T20-speler van die jaar.
Laura Wolvaardt het ook met drie toekennings in die vrouekategorie weggestap. Dié 21-jarige het ’n skitterende T20-Wêreldbekertoernooi in Australië geniet en haar onoorwonne beurt van 53 (van slegs 36 aflewerings) het ’n deurslaggewende rol in haar span se belangrikse sege oor Pakistan gespeel.
Sy is as die krieketspeler van die jaar, die eendagkrieketspeler van die jaar en die spelers se speler van die jaar aangewys.
Die aand se wenners (mans en vroue):
- Krieketspeler van die jaar: Quinton de Kock en Laura Wolvaardt
- Toetsspeler van die jaar: Quinton de Kock
- Eendagkrieketspeler van die jaar: Lungi Ngidi en Laura Wolvaardt
- T20-krieketspeler van die jaar: Lungi Ngidi en Shabnim Ismail
- Spelers se speler van die jaar: Quinton de Kock en Laura Wolvaardt
- Ondersteuners se speler van die jaar: David Miller
- Nuweling van die jaar: Anrich Nortjé en Nonkululeko Mlaba
“Oh captain, my captain!”
South Africa, your SA Men’s Cricketer of the Year is @QuinnyDeKock69!
This is the second time he has won this award, the first time was in 2017.#CSAawards #ProteaFire pic.twitter.com/PC62PEMuUe
— Cricket South Africa (@OfficialCSA) July 4, 2020
This season was the coming of age of @LauraWolvaardt!
Congratulations Wolfie on being named the @Momentum Proteas Cricketer of the Year award for 2019/20. #CSAawards #AlwaysRising pic.twitter.com/txildN8dGt
— Cricket South Africa (@OfficialCSA) July 4, 2020
Baie geluk!! Jy het ons trots gemaak, en ook weer lus om krieket te kyk!!
Mag jou loopbaan net groei. Baie sterkte!