Dean kolf vir afrigterspan

Dean Elgar. Foto: Randy Brooks/AFP.

Volgens Dean Elgar het daar al soveel administrateurs by Krieket Suid-Afrika (KSA) gekom en gegaan, dat die spelers nie meer aldag seker is wie nou aan die stuur van die land se krieketskip is nie.

Terselfdertyd meen die hardebaard-toetskaptein dat die Proteas se afrigters en spanbestuur nie altyd die nodige ondersteuning kry óf die erkenning geniet wat hulle verdien nie.

Op die administratiewe front steier KSA van die een ramp na die ander. Die jongste verwikkelinge is dat daar ’n formele ondersoek van stapel gestuur sal word om Graeme Smith (nasionale direkteur van krieket) en Mark Boucher (hoofafrigter) se optrede verder onder die vergrootglas te plaas.

Die twee Protealegendes tel onder diegene wat in advokaat Dumisa Ntsebeza se voorlopige verslag vir beweerde diskriminasie en bevooroordeelde gedrag uitgesonder is.

Met die belangrike reeks teen Indië om die draai moet die komende ondersoek soos ’n swaard bo die twee krieketmanne se koppe hang.

“Ek dink vanuit die spelers se perspektief moet ons sê dat ons die afrigters en spanbestuur ondersteun. Hulle doen soveel werk agter die skerms en dit gaan dikwels ongesiens verby, terwyl dit ook gereeld in mediaberigte afgewater word,” het Elgar gesê.

Die 34-jarige openingskolwer het ook die hoop uitgespreek dat daar binnekort meer standvastigheid in KSA se raadsale sal wees.

“Dit is nie lekker om te sien hoe ons afrigters vir dinge gelooi word, terwyl ons as spelers baie dankbaar vir hul harde werk is nie.”

Tog glo hy dat die Proteas steeds hul beste op die veld sal lewer.

“Eintlik het al hierdie vreemde tye gesorg dat ons band as spelersgroep net soveel hegter geword het. Selfs al gaan dinge sleg langs die veld, moet ons dit nie as ’n verskoning gebruik nie. Ons moet altyd daarop bedag wees. Ons is ’n professionele span wat op krieket fokus, en hopelik sal krieket na ons omsien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.