Dewald kan boulers vir Bre(k)vis eet

Dewald Brevis in aksiee vir die Mumbai Indians. Foto: Twitter.

Krieket Suid-Afrika (KSA) se T20-uitdaagtoernooi het pas begin, maar Dewald Brevis se kolf doen reeds die praatwerk.

Die 19-jarige speler het egter nie net sy stempel met twee warrelwind-kolfbeurte vir die Titans afgedruk nie, hy het ook met sy boulwerk beïndruk.

Brevis het reeds 11 grenshoue (waaronder vyf sesse) in sy twee beurte gemoker en hy slaan sy lopies teen ʼn flinke treftempo van 142,62.

Dan plaas sy bybreek-aflewerings ook sy teenstanders onder druk; hy spog juis met ʼn boulontleding van 2/19 in gister se wedstryd teen die Lions, terwyl hy vroeër ook 1/20 teen die Dolphins geneem het.

Brevis se krieketster het ál helderder by die onlangse o.19-Wêreldbekertoernooi begin brand.

Die jong kolwer, wat hulle “Baby AB” noem, het toe Shikhar Dawan se rekord vir die meeste lopies in die toernooi verbeter: Spogbeurte van onder meer 65, 104, 96, 97 en 138 het gesorg dat hy 506 lopies teen ʼn bobaas-gemiddeld van 84,33 gemoker het.

Sedertdien maak hy amok by verskeie wêreldwye T20-toernooie. Daar was sy ses van 112 m vir die Mumbai Indians in die Indiese Premierliga, terwyl hy in die Karibiese Eilande die bal vyf keer agtereenvolgens oor die grenstou gejaag het.

Hy is ook binne ʼn japtrap deur ʼn SA20-span opgeraap; hy sal vir MI Cape Town in die komende Suid-Afrikaanse mik-en-mokerskouspel speel.

“Dewald Brevis is die naam op almal se lippe. Hy is AB de Villiers 2.0,” het Shukri Conrad (SA o.19-afrigter) gesê.

Verskeie oudspelers het intussen ook die jong Turk se lof besing.

Michael Vaughan, die voormalige Engeland-kaptein, meen dat Brevis reeds ʼn ongelooflike speler is, terwyl Ben Stokes dinge eintlik perfek met sy “Brevis = Player”-twiet opgesom het.

Hoewel Victor Mpitsang (Protea-keurder) al vantevore gesê het dat hy opgewonde oor Brevis se vreeslose benadering is, is die jong ster nie deel van die Protea-planne vir die T20-Wêreldbeker in Australië nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Hy’s n groot talent, maar nog nie op internationale vlak nie. Avg van 21 in IPL en 13 in CPL. Gee hom kans om te groei, plaas hom in SA A, laat hom groei, gee hom kans.

Hendrik Marthinus ·

Dus al klaar n uitgemaakte saak Dat die keurders die jong man nie like nie.
Op Brevis se slegste dag is hy beter as die huidige vorm waar in Bavuma is
Beter Nog, die hele werled Ken hom Nog nie regtig nie
Hy Kan Dus in n semi final of so spanne verras
Bewys my Dat n ou soos Tristan Stubbs sy pad gestap het in local krieket en hy is in die wereldbeker span
Brevis is klaar Reeds n beter kolwer as stubbs, en stubbs boul nie, die mannetjie Kan boul ook
So hy al klaar n tipe all rounder wat 100% beter is as enige van ons all rounders in dai groep
Dalk is parnell n beter Boulder, maar met die kolf glad nie op Brevis se standard nie
Ons probleem in Sa is ons gee eers n speler kans Wanner hy nie op vorm is nie
Genade tog, ons span is heel onder, bou Dan met Baie Baie jong spellers, en gee hulle n jaar of so om ervaring op te bou in druk koker situasies
Manne soos Brevis, Stubbs, George v Heerden, Wian Mulder, en Nog vele meer wat ek dalk Nog nie gesien het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.