Dhoni groet internasionale krieket

MS Dhoni (23 Oktober 2016) (Foto: AP Photo/Tsering Topgyal, File)

Indë se Mahendra Singh Dhoni het die uitsonderlike gawe gehad om wedstryde in die doodsnikke vir sy span te wen.

Hetsy deur om op ’n akrobatiese wyse van ’n kolwer agter die paaltjies ontslae te raak, of die bal oor die grens te laat seil met een van sy kenmerkende woer-woer-helikopterhoue.

Die 39-jarige ster het gister sy uittrede uit internasionale krieket aagekondig. In die 16 jaar wat hy die paaltjiewagterhandskoene vir Indië gedra het, het hy meer as 15 000 lopies in die drie formate (toetse, eendagwedstryde en T20-kragmetings) geslaan, terwyl hy van meer as 800 kolwers ontslae geraak het.

Hy het in 2011 saam met Gary Kirsten die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Mumbai gewen toe hulle vir Sri Lanka met ses paaltjies geklop het.

Dhoni het die wedstryd in die tweede laaste boulbeurt vir die tuisspan gewen toe hy ’n ses van Nuwan Kulasekara se boulwerk geslaan het.

Hy het ’n onoorwonne 91 lopies aangeteken en was welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

“Dit is die einde van ’n era,” het Sourav Ganguly gesê.

MS Dhoni met die Wêreldbeker (3 April 2011) (Foto: AP Photo/Gurinder Osan, File)

Ganguly is weliswaar die huidige president van die Indiese krieketraad, maar hy was ook Dhoni se kaptein toe hy sy buiging in 2004 gemaak het.

“Hy was ’n wonderlike speler vir sy land en vir wêreldkrieket. Sy leierskap – veral in die korter weergawes van die spel – sal nie sommer geëwenaar word nie.”

Dhoni is die enigste kaptein in wêreldkrieket wat al die Internasionale Krieketraad-trofees omhoog gehou het: saam met die Wêreldbeker het hy ook die T20-beker en die Kampioenskap-beker vir Indië gewen.

Volgens Ganguly verdien sy kolfwerk, flair en natuurlike talent ook lof.

“Elke goeie ding kom ongelukkig  tot ’n einde. Dhoni het ’n ongelooflike internasionale loopbaan gehad.”

Sachin Tendulkar – wat deur derduisende ondersteuners as een van die beste kolwers ooit beskou word – voel dat Dhoni reeds vroeg in sy loopbaan die vermoë gehad het om boulaanvalle aan’t  flarde te slaan.

Dhoni het in sy vyfde eendagwedstryd 148 teen Bangladesj gemoker.

“Ek het hom vir die eerste keer in die Bangladesj-reeks gesien en ’n mens kon dadelik sien dat hy ’n spesiale speler is. MS het hoop gegee en vir almal gewys dat niks onmoontlik is nie,” het Tendulkar gesê.

Dhoni sal egter steeds vir die Chennai Super Kings in die IPL in aksie wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.