Dhoni se Super Kings in nóg ʼn eindstryd

MS Dhoni. (Foto: AP Photo/Bikas Das, File)

Die Chennai Super Kings het na die eindstryd van die Indiese Premierliga deurgedring toe hulle die Gujarat Titans met 15 lopies in ʼn kwalifiseringswedstryd geklop het.

Die Super Kings, wat deur die ervare MS Dhoni gelei word, het die toernooi reeds vier keer gewen en hulle sal poog om nog ʼn toernooi op ʼn wennoot af te sluit.

Daar is egter nog lig aan die einde van die tonnel vir die Titans.

Die verdedigende kampioenspan kry weer Vrydag ʼn eindstrydkans wanneer hulle met die wenner van die Lucknow Super Giants/Mumbai Indians-tweestryd kragte meet.

Die Suid-Afrikaans gebore Devon Conway het gister die Super Kings-beurt op die beste manier moontlik begin toe hy ʼn openingsvennootskap van 87 lopies saam met Ruturaj Gaikwad geniet het.

Conway is uiteindelik vir 40 lopies deur Mohammed Shami uitgehaal.

David Miller kon egter nie weer die kastaiings uit die vuur vir sy span krap nie en hy kon net vier lopies aanteken voordat Ravindra Jadeja hom terug na die kleedkamer gestuur het.

Benewens die Super Kings se silwerware-sukses het hulle nou al vir tien eindstryde in 14 probeerslae gekwalifiseer.

Die leiding van die 41-jarige Dhoni is ongetwyfeld een van die sleutels tot die span se sukses.

Die voormalige Indië-kaptein beskik oor ʼn magdom ervaring: In sy 376 T20-wedstryde het hy reeds 7 271 lopies teen ʼn gemiddeld van 38 aangeteken.

  • Opsomming van telkaart:

Chennai Super Kings 172/7 in 20 boulbeurte: Ruturaj Gaikwad 60, Devon Conway 40 en Mohammed Shami 2/28.

Gujarat Titans 157/10 in 20 boulbeurte: Shubman Gill 42, Rashid Khan 30 en Ravindra Jadeja 2/18.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.