Die krieketsirkus duur voort

Foto: ANA.

In 1939 is die langste toetswedstryd ooit tussen Suid-Afrika en Engeland in Durban gespeel. Ná 12 dae, 43 uur se spel en amper 2 000 lopies was daar steeds nie ’n wenner nie.

Tog is daardie tydlose kragmeting maar ’n vulletjie in vergelyking met die voortslepende drama in Krieket Suid-Afrika (KSA) se raadsale.

Nadat KSA van die een krisis na die ander gestrompel het, het die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) genoeg gehad en beslis dat ’n taakspan op die been gebring moet word om die beleërde nasionale krieketbeheerliggaam se doen en late te ondersoek.

Daar word berig dat, benewens die taakspan, KSA se raad en ander beamptes (waaronder die tydelike uitvoerende hoof, Kugandrie Govender) aangesê is om voorlopig hul pligte opsy te stel totdat die ondersoek afgehandel is.

Sedert Desember 2019 is Thabang Moroe, KSA se voormalige uitvoerende hoof, eers geskors en toe uiteindelik afgedank, borge het besluit om nie hul borgskappe te verleng nie, top-bestuursbeamptes het bedank en die algemene jaarvergadering is voorlopig afgelas.

Toe het transformasie en ’n verwronge aanstellingsbeleid vir ’n verdere wrang smaak gesorg. Die veelbesproke Fundudzi- forensiese verslag – wat onder meer tot Moroe se ondergang gelei het – is ook nog nie deur belanghebbendes gesien nie.

Hoewel Ravi Govender, Saskok se tydelike uitvoerende hoof, in die media gesê het dat die sportbeheerliggaam nie onder administrasie geplaas word nie, is die boodskap duidelik: KSA moet sy huis in orde kry.

Maar KSA weet nie wanneer om handdoek in te gooi nie en daar is in ’n verklaring gesê dat hy nie maklik tot Saskok se eise sal instem nie.

KSA het onder meer regsadvies ingewin rakende die wyse waarop Saskok poog om in sy sake in te meng, maar het terselfdertyd aangedui dat hy bereid is om saam met die sportorganisasie te werk.

Intussen is daar nog geen krieketwedstryde – plaaslik en internasionaal – gereël nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

richard ·

Ons krieket moet oppas dat die IKR hulle nie skors nie om dat almal soos Sascoc en regering wil inmeng.
Weet nie waar om hulle nie lankal ingegryp het nie.
Dit is mos nie van vandag af dat sake daar slegs een pad gaan en dit is in die afgrond in.

koos10 ·

Dit sal nie gebeur nie. Die IKR het dan so lekker saam die knie gebuig.

david ·

Beide SASKOK en KSA is politiek besmette organisasies–
KSA se werklike probleme het begin toe hulle destyds vir Ray White
Grootbaas van Krieket in SA vervang het met Gerald Majola …om tog net
‘n Swart grootbaas te he…
Hulle het baie vlekke op hulle klere…een is bv die geval Kyle Abbott tydens
die wereldbeker in Australie…toe Abbott moes terugstaan vir ‘n beseerde
Philander……op instruksies uit SA…
Saskok is gebore uit die Ramsamy heersskappy in SA se olimpiese sport
organisasie…daar was al vele krisisse…..meesal oor politieke inmenging..
Mens onthou nog o.a. die belaglikhede in skole netbal as spanne beboet is
omdat daar nie genoeg swart speelsters in ‘n span was nie…!

‘n Sirkus ? Kan aan ‘n ander benaming ook dink..!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.