Die moedige optrede van Flower en Olonga in 2003

Andy Flower en Henry Olonga. Foto: Twitter.

Sport en politiek werk nie altyd lekker saam nie. Maar, soos wat ’n vrou in die Middeleeue teruggegaan het na ’n man wat nie ’n stukkende deur in die huis kon herstel nie, so is die twee eintlik onafskeidbaar van mekaar.

Sport is ’n kragtige wapen om ’n politieke idee, agenda of doelwit te bemark. Dink maar aan die huidige Black Lives Matter-beweging, die Meelbomtoets van 1981, en so meer. Dit kan ook ’n belangrike politieke versoeningsrol speel – soos met die Wêreldbeker-rugbytoernooi van 1995.

Gedurende die internasionale krieketskouspel van 2003 hier in Suid-Afrika het Zimbabwe se Andy Flower en Henry Olonga egter gewys dat hulle twee van die moedigste spelers in die geskiedenis van die spel is.

Die twee het swart armbande gedra terwyl hulle op die veld was. Toe hulle oor die simboliek daarvan gepols is, het hulle ’n verklaring uitgereik met dié treffende woorde: “Ons treur oor die dood van demokrasie in ons geliefde Zimbabwe”.

Nóg Olonga nóg Flower het ná die toernooi weer vir Zimbabwe gespeel.

Flower is Zimbabwe se beste krieketspeler ooit. In 63 toetse het hy 4 794 lopies teen ’n gemiddeld van amper 52 geslaan. As paaltjiewagter het hy van 160 kolwers ontslae geraak.

Meer onlangs het hy as afrigter naam in Engeland gemaak en saam met spelers soos Kevin Pietersen, Andrew Strauss en James Anderson gesorg dat die Engelse die voorste toetsspan ter wêreld geword het.

Boonop het hulle ook twee keer die Reeks om die As teen Australië gewen. Vra maar vir enige Engelse krieketspeler: Daardie houertjie met die verbrande dwarsbalkies is die belangrikste silwerware in toetskrieket.

In ’n onderhoud vroeër vanjaar met die krieketjoernalis Neil Manthorp het Flower gesê hy wens hy kon destyds meer gedoen het.

“Ek is eintlik spyt dat ons nie slimmer was nie. As ek net ’n bietjie meer kennis gehad het en nie so mediasku was nie, sou ons ’n baie groter invloed gehad het,” het Flower gesê.

“Met die swart armband wou ons die media se aandag op die skending van menseregte in Zimbabwe gevestig het. In daardie opsig het die protes op ’n manier gewerk.”

Volgens Flower is hy jammer dat die twee nie meer gedoen het nie – selfs nadat hulle na Engeland moes vlug.

“Daar is soveel dapper mense in Zimbabwe, wat steeds daagliks veg om dinge beter te maak in die land, wat vir liefdadigheidsorganisasies werk en soveel goeie dinge doen. Ons het maar iets baie klein in vergelyking gedoen.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jack

Die probleem is die links liberale pers rapporteer hierdie dappare optredes nie. Of hulle wanvoorstel dit om die despote ter wille te wees.