Die Proteas kort opwindende nuwe bloed

Aiden Markram – hy sal hopelik sy slag wys. (Twitter @AidzMarkram)

Die uitdagings en die meet van sukses in krieket is so anders as dié in enige ander sport. ʼn Enkele glips, ʼn onspeelbare bal, ʼn verbroude maklike vangskoot kan individuele prestasies skeeftrek, ʼn toetsreeks help beslis of ʼn loopbaan kelder.

Dit is in hierdie lig dat ʼn mens die vertoning van die 22-jarige nuweling-aanvangskolwer Aiden Markram  in sy eerste toets moet beoordeel.

Daar word groot verwagtinge van hom gekoester in die eerste toets teen Bangladesj wat Donderdag in Potchefstroom begin.

Hy word gesien as die man wat die probleem van ʼn bestendige aanvangskolwer moet oplos. Maar daar sal gewaak moet word daarteen om in eg Suid-Afrikaanse wyse ná een of twee swak tot middelmatige beurte na hom as ʼn mislukking te verwys.

Daar moet nietemin gehoop word dat Markram nie gaan sukkel om die groot stap na toetskrieket te maak nie.

Die ouer manne, en dit sluit die ervare spelers soos Hashim Amla en Faf du Plessis in, teken nie meer die tellings van ʼn jaar of twee gelede aan nie. Nog nie heeltemal te lank in die tand vir krieket nie, maar die jare het maar ʼn manier …

En dit is dáárom dat Markram sy voete so gou moontlik moet vind, om te wys dat daar steeds jongelinge is wat deur die stelsel kom en sukses behaal. Quinton de Kock (25) is saam met Temba Bavuma (27) die enigste van die voorste kolwers wat nog nie 30 is nie. Theunis de Bruyn – en kom ons wees bly dat die begaafde kolwer in die prentjie bly – is darem ook net 24.

En hoewel Bavuma ʼn vegter soos min is, is hy nie ʼn wonderkind nie, en met die gerondskuiwery van De Kock in die kolforde is sy selfvertroue ook daarmee heen.

♦  Benewens Markram se uitdaging, sal die aandag van Donderdag af ook op die Proteas se boulaanval sonder Dale Steyn (hy het die week saam met die span geoefen), Chris Morris en Vernon Philander wees.

Tussen hulle (die span word eers Donderdagoggend bekend gemaak)  moet die wisselvallige Wayne Parnell, Andile Phehlukwayo en Duanne Pretorius die  aflosboulwerk behartig om Morné Morkel en Kagiso Rabada asemskepkans te gee. Die jong draaier Keshav Maharaj mag dalk die stadige kolfblad geniet.

♦  Bangladesj sukkel weg van die huis af. Hulle het ʼn paar stewige kolwers , en as die blad die draaiboulers gaan bevoordeel, kan hulle verras.

Maar as die reën soos tot dusver in die lente wegbly, behoort die Proteas in die eerste toets met ʼn sege te begin.

Die spanne –

Suid-Afrika (uit): Faf du Plessis (kaptein), Dean Elgar, Aiden Markram, Hashim Amla, Temba Bavuma, Quinton de Kock, Theunis de Bruyn, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Morne Morkel, Duanne Olivier, Wayne Parnell, Andile Phehlukwayo

Bangladesj (uit): Mushfiqur Rahim (kaptein), Tamim Iqbal, Soumya Sarkar, Imrul Kayes, Sabbir Rahman, Mahmudullah, Mominul Haque, Liton Das (wkt), Mehidy Hasan, Taijul Islam, Mustafizur Rahman, Rubel Hossain, Shafiul Islam, Taskin Ahmed, Subashis Roy

Spel begin 10:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Stem saam. Die ou manne doen nie meer so goed nie en ons sukkel om ‘n nuwe kolwer te kry wat gereeld goeie tellings aanteken. Gelukkig is die meeste lande se krieket maar af die laaste te tyd, (met die uitsondering van Indië), so ons bly nog onder die boonstes op die ranglyste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.