Die Proteas kry hul neuse voor in Port Elizabeth!

AB de Villiers. Foto: Michael Sherman/ANA

Australië is op dag een van die Tweede Toets in Port Elizabeth vir 243 uitgehaal nadat Kagiso Rabada vyf paaltjies platgetrek het. Die Proteas se aanvangspaar (Markram en Elgar) het hul totaal geneem tot by 22 toe Markram been voor paaltjie betrap is. Elgar en die naguiltjie Rabada was teen uitskeityd nog voor die paaltjies met die totaal op 39/1. Dit was nog 204 lopies kort van die eerstebeurt-totaal van Australië.

Die Protea-kolwers het op dag twee bestendig gevaar in die oggendskof en teen middagete was die totaal 110/2. Dit was nog 132 lopies kort van die Aussies se 243. Rabada het sy staal gewys met die kolf en teen die snellers van die Aussies sy man behoorlik gestaan. Rabada was uiteindelik uit vir 29 lopies. Dean Elgar het die kat mooi uit die boom gekyk en was ondeurdringbaar. Die Aussies se draaier, Nathan Lyon, het in die oggendsessie net 19 lopies in 15 boulbeurte afgestaan.

Slegte nuus vir Suid-Afrika is dat Kagiso Rabada moontlik geskors gaan word en dat hy nie in die oorblywende twee toetse sal speel nie. Sy skouerstamp op dag een teen Steve Smith, nadat hy die Australië-kaptein uitgehaal het, het gelei tot ʼn vlaktwee-oortreding van die gedragskodes. Rabada sal binnekort verhoor word wat sal bepaal of hy weer in die huidige reeks in aksie sal wees.

Ná middagete het die Proteas voorgekolf met Amla en Elgar wat drupsgewys maar bestendig die lopies opgestapel het. Die kolfomstandighede was uiters moeilik, maar albei spelers het hul vyftigtalle in hierdie sessie behaal. Die belangrikste was dat Suid-Afrika sy paaltjies beskerm het en geen paaltjie het dan ook in die sessie geval nie.

Teen teetyd was Suid-Afrika stewig in die saal op 153/2. Dean Elgar was op 57 en Hasim Amla op 54. Dit was 90 lopies kort van Australië se eerstebeurt-totaal.

Die laaste sessie van die dag het die lopies gevloei, maar die paaltjies het vinnig gekantel. Elgar (57), Amla (56), Du Plessis (9), De Bruyn (1) en De Kock (9) het almal hul paaltjies verloor.

AB de Villiers was die enigste kolwer wat met gemak lopies op dag twee kon aanteken. De Villiers het sy 50-tal van net 62 balle (10 x 4) geslaan. Suid-Afrika het dag twee afgesluit op 263/7 van 96 boulbeurte wat aan Suid-Afrika ʼn voorsprong van 20 lopies gee met drie paaltjies staande. AB de Villiers (74) en Vernon Philander (14) sal Sondag kyk of hulle aan Suid-Afrika ʼn substansiële voortou op die eerste beurt kan gee.

Die vraag is: Hoe gaan die kolfblad hom op dag drie en vier gedra?

Dag drie is geskeduleer om Sondag om 10:00 op St. George’s Park in Port Elizabeth te begin.

Klik hier vir meer inligting: http://www.espncricinfo.com/series/10908/game/1075983/south-africa-vs-australia-2nd-test-aus-tour-of-sa-2017-18/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Paul ·

Jammer, hulle verdien dit nie na die Warner fiasko nie, ook nie na Clive Eksteen se pronk saam het die drie gesigte van Sonny nie.

O’ja en Faf is nie ‘n kaptein se dinges nie.

Nico ·

As Rabada geskors gaan is dit net sy eie skuld. As jy nie wil hoor nie moet jy maar voel. Hy wys maar net hie dit in SA gaan. Nêrens meer redpek en dissipliene nie.

Jo ·

Ek stem @Nico, hy moet geskors word, vieslikke houding, dis nie net “fast bowler aggression” nie. Hy bewys oor en oor hy’s agresief en het dié houding. Saffa’s het gekerm oor Warner, so die ICC moet optree teen hom. Minstens 3punte, minstens 2 toets skorsing.

Joe ·

Rabada moet geskors word, n level 2 breach ( skouer teen Smith) en is ook nou gecharge Level 1 vir sy sendoff/gegil teen Warner. Tyd die laaitjie n les leer. Min 2 toets ban.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.