Die Proteas se eie wenresep: ‘So maak mens!’

JP Duminy kyk toe terwyl Indië se Hardik Pandya boul. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Suid-Afrika se T20-span het Woensdag die bordjies goed verhang in die tweede T20-kragmeting teen Indië. Die Proteas was voor die wedstryd werklik met die rug teen die muur, maar het gewys hulle kan presteer en wen al is die statistieke van die vorige paar wedstryde teen hulle.

Die resep vir ʼn oorwinning in Saterdag se eindstryd is deur hulself geskryf en nou moet hulle net vir mekaar sê: “So maak mens!” Indien die voorbeeld van ʼn paar spelers nagevolg word, is dit eintlik baie makliker. Ondersteuners en selfs kenners van die spel sal weet ons verwys hier na die grondaspekte van die spel.

So maak mens glad nie! Die foute wat uitgesny moet word, begin by die boulers se gemak waarmee hulle meer as 10 lopies per boulbeurt in die laaste 8 boulbeurte in Centurion afgestaan het. Senior spelers soos Chris Morris kan nie bekostig om 42 lopies in net drie boulbeurte weg te gee nie en David Miller moet werklik begin om weer ʼn bydrae met die kolf te maak.

Heinrich Klaasen in aksie. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

“So maak mens!” Die eerste les vir ons boulers is: neem weer drie paaltjies in die eerste ses boulbeurte en beperk Indië tot onder 50 lopies. Fokus op vennootskappe soos die 50 lopies van 31 balle deur JP Duminy en Heinrich Klaasen. Die lopietempo moet deurentyd so naby moontlik aan 10 lopies per boulbeurt bly. Dit is wat ons vermag het deur 150 lopies op die telbord te plaas in die eerste 15.4 boulbeurte op SuperSport-park. Laastens moet die manne daarop fokus om wakker te wees in die veld, vangskote te benut en die paaltjies aan te val met vlymskerp ingooie.

Kaptein JP Duminy se selfvertroue waarmee hy daardie laaste twee sesse gemoker het, behoort vir elke speler te sê, ek kan! Die Proteas kan beslis die reeks op ʼn hoë noot eindig en daardie glimlagte van Virat Kholi en sy makkers se gesigte afvee!

Spel tussen Suid-Afrika en Indië begin Saterdag om 18:00 op Nuweland in Kaapstad. Die wedstryd word voorafgegaan deur die vyfde T20-wedstryd tussen Suid-Afrika se Vrouekrieketspan en Indië s’n wat om 13:00 begin.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

RB ·

Indien SA die laaste T20 kan wen dan sou SA die Toetsreeks sowel as die T20 reeks gewen het. Wat darem bietjie salf smeer! Die 1-dag reeks was wel nie te wonderlik nie, maar die spelers met beserings sal darem ook nou begin terugkeer vir die reeks te Aus. Die silver randjie is dat Klaasen “ontdek” is. Dit sou dwaas wees as hy nie nou in die 1-dag/T20 spanne bly nie. Natuurlik is daar plek vir beide hom en De Kock as kolwers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.