Proteas stel teleur ná hul goeie eerste dag teen Engeland

Temba Bavuma – skop met 46 lopies vas. (Foto: Twitter @officialcsa)

Die tweede dag se spel in die vierde kriekettoets teen Engeland op Old Trafford is een wat die Proteas graag sal wil vergeet.

Ná Vrydag se goeie vertoning met die bal het die Proteas vir Engeland deur ʼn verbroude vangkans toegelaat om ʼn telling van 362 almal uit aan te teken – en toe het hulle kolwers teen die Engelse boulers teleurgestel.

Aan die einde van die tweede dag se spel het die Proteas se telling op 220/9 gestaan, nog 142 lopies agter die tuisspan se eerstebeurttelling.

Net Hashim Amla (30) en in mindere mate Faf du Plessis (27) en Temba Bavuma, wat 93 balle lank vir sy 46 lopies gewerk het, het met redelike gemak gekolf, maar nie een aangegaan om die beurt werklike gesag te gee nie.

Heino Kuhn het hard gewerk en gekeer maar nooit oortuig vir sy 24 lopies nie, maar tonne vegtersgees getoon.

Die ironie van die uiters middelmatige kolfvertonings op ʼn goeie kolfblad wat vinniger as op die eerste dag was en min beweging aan die boulers verleen het, is dat net Dean Elgar, honderdtal-held van die derde toets, met sy nul nie dubbelsyfers behaal het nie.

Elgar is met die derde bal van die kolfbeurt uit.

Ses kolwers het 20 of meer aangeteken, maar net twee het voortgekolf en 30 lopies of meer aangeteken.

Jimmy Anderson, na wie die een paviljoen by Old Trafford vernoem is, het sy nuwe “heldestatus” met 4/33 gevier. Moeen Ali en Stuart Broad het ook elk twee paaltjies geneem.

♦  So goed soos die Proteas se boulers op die eerste dag was, so kwaai het hulle in die laaste 14 boulbeurte deurgeloop toe Jonny Bairstow losgetrek en veral vir die laaste paaltjie saam met Jimmy Anderson die telling vinnig laat klim het.

Engeland het Saterdag hulle telling met 102 lopies tot 362 in net 18.4 boulbeurte laat aangroei. Hoewel die kolfblad die kolwers Saterdag meer goedgesind was, was Engeland se uiteindelike 362 lopies veels te veel.

Quinton de Kock moet die blaam dra vir daardie laaste vennootskap nadat hy vir Kagiso Rabada ʼn vyfde paaltjie gekos het met ʼn verbroude vangkans. Bairstow het toe 53 lopies gehad en het saam met Anderson 52 lopies vir die laaste paaltjie aangeteken waarvan Bairstow se bydrae 48 in 32 balle was.

Bairstow is uiteindelik op 99 deur Keshav Maharaj beenvoor betrap. Hy het sy 99 in 145 balle aangeteken en 14 vier en ʼn ses geslaan

Rabada het Saterdag die eerste twee paaltjies geneem en Engeland was op 303/8 in die knyp. Morné Morkel het darem die troos van ʼn tweede paaltjie gekry, maar het veel, veel beter as sy 2/92 verdien.

Klik op die volgende skakel vir die volledige telkaart en statistieke: http://www.espncricinfo.com/series/10718/scorecard/1031443/England-vs-South-Africa-4th-Test-Basil-DOliveira-Trophy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.