Die Rabada- en De Villiers-vertoning maak dit een elk!

AB de Villiers. Foto: twitter.com/OfficialCSA/ANA

Die vierde dag van die tweede toets in Port Elizabeth het Maandag aan Suid-Afrika behoort. Kagiso Rabada het die kollig met sy boulwerk gesteel en AB de Villiers met die kolf. Suid-Afrika het halfpad deur dag vier ʼn ses paaltjies-oorwinning oor Australië behaal en die reeks gelykop gemaak met een elk.

Australië het die oggend voortgekolf met hul telling op 180/5 wat ʼn skraal voorsprong van net 41 lopies was. Suid-Afrika het 382 lopies in hul eerste beurt aangeteken in antwoord op die Aussies se 243.

Suid-Afrika het Australië se laaste vyf paaltjies vir 59 lopies laat kantel. Suid-Afrika se Kagiso Rabada het die dag op ʼn fantastiese noot begin toe hy Mitchell Marsh in die eerste boulbeurt van die dag vir 45 lopies skoongeboul het. Rabada het nie daar opgehou nie. Hy het ook van Pat Cummins ontslae geraak met sy telling op 5 (204/7). Dit was toe reeds Rabada se vyfde paaltjie van die beurt en sy tiende van die wedstryd.

Een boulbeurt later het Rabada sy sesde paaltjie geneem toe Mitchell Stark deur de Kock agter die paaltjies uitgevang is (204/8). Ngidi het van Lyon (5) ontslae geraak en toe Hazlewood vir 17 lopies moes terugstap, was die Aussies se laaste paaltjie plat met die telling op 239. Dit het aan Australië ʼn voorsprong van 100 lopies gegee. Rabada het gespog met ses paaltjies terwyl Ngidi en Maharaj elkeen twee geneem het.

Die kolfblad was speelbaar en sonder tierlantyntjies. Die Proteas het hul tweede beurt skuins voor middagete begin en teen etenstyd was die telling 22/1 toe Dean Elgar (5) deur Lyon geboul en gevang is. Markram (21) het sy paaltjie met Suid-Afrika se totaal op 32 verloor.

Dit is toe dat AB de Villiers, soos in die eerste beurt, die kitaar behoorlik geslaan het. Saam met Hashim Amla het hulle die telling geneem tot by 81/4 toe Amla agter die paaltjies gevang is vir 27 en De Villiers uit is vir 28 lopies van 26 balle. Die Proteas se kaptein, Faf du Plessis, en Theunis de Bruyn het die telling tot by 102/4 geneem, wat die toets in die Proteas se guns beklink het.

Die reekstelling is nou een elk, met die derde toets wat op 22 Maart in Kaapstad begin.

Kagiso Rabada kan moontlik geskors word, wat beteken dat hy nie in die oorblywende twee toetse sal speel nie. Sy skouer-stamp op dag een teen Steve Smith, nadat hy die Australië-kaptein uitgehaal het, het gelei tot ‘n vlak een-oortreding van die gedragskodes.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Koos1 ·

Nou moet Morne Morkel weer kom speel.
Rupert, ek weet nie of jy saam stem nie maar ons krieket word bestuur soos ons munisipaliteite. Solank een uit vier riool pompe nog werk is alles mos ok. Laat daai een nou breek dan is dit tyd vir krisesbestuur. In krieket maak ons mos staat op net twee spelers, in die laaste toets was dit Rabada en AB. Nou is Rabada uit, en nou is dit weer krisesbestuur. Met so ‘n houding en bykans geen “backup” spelers in die poel nie, is dit regtig nog ‘n wonderwerk dat ons Proteas nog (soms) wen!

Pieter ·

Rabada is te groot vir sy skoene en dis tyd dat hy aarde toe gebring word. Ek stem saam met jou Koos1, huidiglik is daar geen diepte in die meeste van ons sportsoorte nie. Ek kan maar net hoop dat Morne homself sal oortref en die ding vir ons doen. Baie belangriker egter vir my is die feit dat, ongeag van hulle swak vorm, word daar volstaan met ons hopelose sogenaamde top orde kolwers. Dit lyk so of party van die outjie maar net opdaag, ‘n paar houe speel en dan op die pawiljoen gaan sit en ontspan. Dit sluit die kaptein in!

Veritas ·

Pieter ek stem in ‘n mate met jou saam. Die huidige aanvangspaar, Elgar en Markram behoort nog ‘n kans gegun te word want albei het die vermoë om groot beurte te speel en is nog jonk genoeg om ‘n paar jaar saam as aanvangspaar vir die Proteas te speel. AB, Amla en Faf raak lank in die tand en behoort afgewissel te word met jong spelers wat oor die nodige talent beskik. Ek voel dat ons in SA te min aandag gee aan kolwers wat ook ‘n boulfunksie kan uitvoer. In enige span is behoorlike ‘all rounders’ onmisbaar, maar hier word hulle net in beperkte boulbeurte wedstryde gebruik. Na my mening behoort Chris Morris eers gekies te word en dan die res van die span.

rollie ·

Die standaard van ons plaaslike kompetisies is swak daarom kom daar nie genoeg spelers van toetsgehalte deur nie. As Morkel speel, hoop ek net hy los die kort boulery en fokus om paaltjies te neem

Joe Hall ·

En toe ontdek Rabada dat die internasionale gemeenskap nie so toegeeflik is, of omrol en “askies dat ek leef” sê, wanneer ‘n swart Suid Afrikaan nie die reëls van die spel wil eerbiedig nie.
Kry vi’ djulle!!!

jAKES ·

Ek is van mening dat Rabada nie genoeg gestraf is nie. KSA moet n voorbeeld van hom maak en hom vir nog 6 toetse opskort. Hy is arrogant, het swak dissipline en dink dat hy groter as die spel is. Dan ontken hy openlik dat hy nie kan onthou dat hy Steve Smith gestamp het nie. Wat dinge nog erger maak is dat Brian McMillan en Ashwell Prince sulke optrede nie afkeur nie. Asof hulle wereldsterre was toe hulle gespeel het. Asseblief!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.