Die regte doepa voor Proteas se toer na Kiwiland

Hashim Amla - speler van die wedstryd na sy 154 lopies (Foto GB Jordaan)

Hashim Amla – speler van die wedstryd na sy 154 lopies (Foto GB Jordaan)

Nou vir Nieu-Seeland! Dit is moontlik hoe die Proteas redeneer oor die toer in Kiwiland waarheen hulle Saterdag vertrek.

Suid-Afrika het Vrydagaand in Centurion die reeks teen Sri Lanka 5-0 beklink nadat hulle verlede jaar tuis ook so met Australië gemaak het. Hulle het met die skoonskipreeks na die eerste plek op die wêreldranglys opgeskuif.

Die Proteas het gemaklik met 88 lopies gewen nadat hulle ingestuur is om te kolf en 384/6 aangeteken het. Sri Lanka kon net 296/8 lopies in hulle 50 beurte aanteken nadat hulle in ʼn stadium 199/8 gehad het.

Daar was in Sri Lanka se kolfbeurt egter ʼn eerste honderdtal deur Asela Gunaratne (114 nun in 117 balle) waarvan sy “tweede vyftigtal” in 25 balle aangeteken is.

♦  Hashim Amla en Quinton de Kock het ʼn stewige aanvangsvennootskap gebou waarop die res van die Proteas se kolwers kon voortbou. De Kock het net 87 balle nodig gehad om sy 12de honderdtal in eendagwedstryde vir Suid-Afrika aan teken. Dit is sy vierde honderdtal op Centurion.

Die eerste paaltjie het in die 27ste boulbeurt met die telling op 187 geval toe De Kock ʼn bal skrams getref het. Sy kolfbeurt van 109 het 16 viere ingesluit.

Faf du Plessis - speler van die reeks met 410 lopies, insluitende twee honderdtalle en `n vyftigtal teen 102,50 per beurt

Faf du Plessis – speler van die reeks met 410 lopies, insluitende twee honderdtalle en ‘n vyftigtal teen 102,50 per beurt

Faf du Plessis het by Amla aangesluit en voortgegaan waar De Kock opgehou het en sy 41 lopies insluitende twee sesse, in net 34 balle aangeteken.

AB de Villiers (14) en JP Duminy (10) het gekom en gegaan en Farhaan Behardien het in die 44ste boulbeurt met die telling op 309/4 by Amla aangesluit. Amla het sy goeie lopietempo nog ʼn kerfie verhoog en is die 49ste boulbeurt vir ʼn uitstekende 154 uitgevang.

Amla het 15 viere en 5 sesse geslaan. Dit is die vierde keer dat hy meer as 150 lopies in ʼn eendagwedstryd aanteken.

Behardien het in 20 balle 32 (ʼn vier en twee sesse) aangeteken voor hy in die laaste boulbeurt uit is.

Die Proteas het 384/6 in hulle kolfbeurt aangeteken, onstuitbaar op pad na hulle eerste plek op die wêreldranglys vir die eendagkrieket- formaat.

♦  Sri Lanka se eerste paaltjie het op 25 geval toe die kaptein Upul Tharanga (7) van Chris Morris se boulwerk gevang is.

Sri Lanka se kolwers het Vrydagaand plek-plek ʼn bietjie meer toewyding getoon en veral Niroshan Dickwella (39), Asela Gunaratne (114 nun) en Sachith Pathirana (56 )  het gewys dat daar tóg potensiaal is.

Gunaratne, toegegee met behulp van swak boulwerk van veral Farhaan Behardien (17 in sy enigste beurt), Wayne Parnell (2/51 in net sewe beurte) en in ʼn mindere mate Andile Phehlukwayo, het indruk gemaak. Maar weer was daar nie genoeg van hulle kolwers wat na ʼn goeie begin deurgedruk het nie.

Die vroeë verlies van die Sri Lankane se paaltjies het egter heelwat spanning uit die wedstryd gehaal, maar op 85/5 in die 14de boulbeurt het die reën gedreig.

AB de Villiers. Die Proteas se eendagkaptein meen sy span is reg vir die Kiwi's

AB de Villiers. Die Proteas se eendagkaptein meen sy span is reg vir die Kiwi’s

Skielik was daar ʼn dringendheid by die Proteas om so gou moontlik 20 boulbeurte af te handel om te verseker dat hierdie minimum boulbeurte die kragmeting as ʼn wedstryd kwalifiseer.

De Villiers het twee draaiboulers, Imran Tahir en JP Duminy, ingespan om vinniger deur die boulbeurte te kom sodat die oorwinning vir ʼn skoonskipreeks en eerste plek op die wêreldranglys behaal kon word.

Die dreigende donderstorm is egter langs die veld verby sonder om  die krieket te beïnvloed.

Chris Morris, wat met sy beste ontleding vir die Proteas 4/31 geneem het, was Suid-Afrika se beste bouler. Rabada was egter nie goed nie en het sonder ʼn paaltjie en met vyf wydlopers geëindig. Die boulspan  het 11 wydlopers afgestuur.

ʼn Kommer vir die Proteas se afrigtingspan sal seker die feit wees dat min balle die Sri Lankane geklop het en die meeste van hulle paaltjies deur onbesonne dryfhoue weggegee is met vangskote in die dekke en halfweg en -by.

Daar lê vir die Proteas ʼn stywe uitdaging voor nadat hulle pas hulle tweede opeenvolgende eendagreeks met 5-0 gewen het nadat hulle laat verlede jaar ook vir Australië in Suid-Afrika verniel het.

Die Proteas speel Vrydag  in ʼn losmaker in die enigste T20 teen die Kiwi’s en dan is daar vyf eendaagse wedstryde plus drie toetse wat volg op die toer van ses weke deur Nieu-Seeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Indien van ons boulers nie drasties verbeter nie,wag daar groot slae op hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.