Die Temba-dilemma duur voort

Temba Bavuma. Foto: Hansie Linde.

Die Proteas het vandag gewys dat hulle steeds ʼn wedstryd op ʼn drafstap kan wen; selfs al sukkel Temba Bavuma hom boeglam om lopies aan te teken.

Rilee Rossouw het sy tweede agtereenvolgende internasionale T20-honderdtal gemoker, terwyl Anrich Nortjé vier paaltjies teen Bangladesj laat spat het.

Maar die arme Bavuma is steeds sonder enige woema boaan die kolflys.

In sy laaste ses pogings met die wilgerlat het die Proteas se witbalkrieket-kaptein vir beurte van 0, 0, 3, 8, 2* en 2 gesorg.

Vandag het hy eerste slag teen Taskin Ahmed gebied.

Hy het sonder veel selfvertroue die bal verby punt gespeel om vir twee lopies deur te skarrel, maar is kort daarna vanaf die laaste aflewering van die openingsboulbeurt agter die paaltjies uitgevang.

Fotograwe staan deesdae gereed om Bavuma af te neem terwyl hy kop onderstebo die pad terug na die kleedkamer aanpak. En hulle hoef gewoonlik nie te lank te wag nie.

Tog is die 32-jarige kolwer glad nie ʼn swak speler nie en hy was vroeër vanjaar een van die Proteas se mees bestendige kolwers.

Sy vennootskap van 204 lopies om die vierde paaltjie saam met Rassie van der Dussen teen Indië behoort die bogenoemde stelling te onderstreep.

Maar reeds vóór sy elmboogbesering het hy al gesukkel om lopies in die T20-formaat van die spel aan te teken en nou, op die grootste verhoog in Australië, is sy geploetery meer as ooit vantevore onder die vergrootglas.

Wat kan die Proteas doen?

Mark Boucher en sy spanmaats het al male sonder tal gesê dat hulle vir Bavuma 100% ondersteun en dat hy genoeg geleenthede sal kry om weer vlam te vat.

Die beleërde speler kan inderdaad dinge met net een goeie beurt omdraai, maar as ʼn mens sy huidige spelpeil met ʼn Bic-aansteker vergelyk, sou jy al lankal na die boksie vuurhoutjies gegryp het om dinge aan die gang te kry.

Die moontlikheid is egter skraal dat hy die trekpas sal kry.

Natuurlik kan jy hom ook laer laat kolf, maar ten koste van wie? Aiden Markam, David Miller en Tristan Stubbs vorm ʼn gedugte middelorde en dit sal onregverdig wees om een van hulle weg te laat.

Eoin Morgan, die voormalige Engeland-kaptein, het tydens die vorige T20-skouspel gesê dat sy swak spelpeil nie in die pad van sy span se sukses moet staan nie; selfs al was sy taktiese besluitneming as kaptein nog baie goed.

Bavuma is egter nog vasbeslote om ʼn nuwe kolfblaadjie om te slaan, maar ʼn stadige vyftigtal plaas steeds die ander kolwers onder druk om vinnige lopies aan te teken.

Maar dalk verras hy almal in die Proteas se volgende wedstryd teen Indië; wie weet?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Manie ·

Vervang Bavuma, Stubbs en Markram met Malan, Roelofsen en Hendricks.

duiweboer ·

Hy is nog nooit op die vlak op standaard nie maar ons weet hoekom hy in die span is. Hy Sal nie vervang word nie.

Kobus ·

Ek is nie ‘n krieket kenner nie , maar dit wat ek lees spel eending uit , hy is nie op standaard nie. Maak hom nie swak/sleg nie,maar moet hy nie uitgelaat word sodat hy eers weer in sy provinsie speel om standaard / selfvertroue terug te wen nie? Dis mos nie ‘n skande nie.

Manie ·

As hulle eers kaptein gemaak is, sal hulle nooit uitgelaat word nie, werk in rugby ook so.

George ·

Presies hoe hul Faf uitgewerk het, hul het hom laat kapteinskap ophang, en toe die koue skouer gegee.

George ·

As ek teen SA gespeel het, sou ek doel bewus NIE Bavuma se paaltjie vat nie, ek sal hom op die pitch hou. Stubbs lyk my is ook meer hype as enige iets anders, Markram is hit or miss, 7 swak beurte dan 1 goed.

Vincent ·

Ook net in SA waar n speler in die span bly al is hy nie op vorm nie…..

Frank ·

Nie seker hoekom hierdie ‘n dilemma moet wees nie. As jy nie op vorm is nie en alreeds 6 geleenthede gekry het…….. Die spel is tog baie groter as die man

Fran ·

Hy is swak. Punt. Geen inspirasie as kaptein nie. Geen leierskap.

MakersMark ·

Hy presteer nie. Vervang hom net iemand wat die werk gedoen kry (lopies op die bord). Geen dilemma nie …..

Treurwilger ·

Hou Bavuma daar en verpas die Wêreldbeker soos Australië op die punt is om te doen met Finch.
Niks teen Bavuma óf Finch nie …

Grond ·

Daar is ‘n rede hoekom Temba Bavuma nie uit die span gelaat kan word nie, maar laat hom dan op nommer 11 kolf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.