Dis Nortjé se vaart teen Miller, Buttler se slaankrag

Engeland se Jos Buttler is voorste lopiemaker in die SA20-toernooi. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Op papier behoort die Pretoria Capitals hopeloos te veel skietgoed vir die Paarl Royals te hê wanneer hulle later vandag in die eerste eindstryd van die SA20-toernooi op die Wanderers kragte meet.

Die Pretorianers was immers eerste op die punteleer ná die groepfase, terwyl die Paarliete op hul nerwe na die uitkloprondes deurgeskuur het.

Maar ʼn krieketwedstryd word nie op papier beslis nie en in ʼn halfeindstryd is enigiets moontlik – veral as jy oor spelers soos Jos Buttler, David Miller en Eoin Morgan beskik.

Die drie maak die kern uit van die Royals se kolflys en met 1 137 wedstryde en meer as 26 000 lopies tussen hulle, beskik hulle oor die vermoë om enige mik-en-mokerkragmeting met die wilgerlat vir hul span te beklink.

Boonop het Buttler en Morgan al sukses op die internasionale verhoog saam met Engeland gesmaak, terwyl Miller ongetwyfeld onder Suid-Afrika se beste witbalkrieketspelers van alle tye tel.

Voeg hierby die veglustige Jason Roy en ʼn lopiefees kan inderdaad op die neutrale Wanderers-krieketveld wink.

Daarteenoor kan die Capitals op die vaardighede van die opwindende Phil Salt, Will Jacks en Kusal Mendis reken om die telbord aan die gang te hou, maar in Anrich Nortjé spog hulle met een van die vinnigste boulers in wêreldkrieket.

Die Protea-blits het reeds 16 paaltjies in die toernooi teen ʼn gemiddeld van 13,43 laat spat, terwyl hy net ʼn rapsie meer as ses lopies per boulbeurt afstaan. In die hoëoktaan-wêreld van T20-krieket is daardie statistieke goud werd.

Daarbenewens beskik hy oor die unieke gawe om nie net vinniger as 150 km/h te boul nie, maar ook om kolwers met sy variasies te flous.

As jy ooit na ʼn teenvoeter vir Miller en Kie gesoek het, dan is Nortjé sekerlik die antwoord.

James Neesham se ster skyn net so helder vir die Pretorianers. Die Nieu-Seelander slaan vinnige lopies, neem belangrike paaltjies en benut gereeld ongelooflike vangskote.

Indien die weer saamspeel kan krieketliefhebbers hul vere dus regskud vir ʼn opwindende wedstryd op die Hoëveld.

Die aksie begin vanmiddag om 17:30 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Uitslae van die vorige wedstryde tussen die Capitals en die Royals:

22 Januarie: Royals wen met ses paaltjies

7 Februarie: Capitals wen met 59 lopies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.