Dis tyd om die bordjies te verhang

Die Proteas vier ’n paaltjie. (Foto: Twitter.)

Draai die horlosie terug na 18 Julie 2017 in Bristol toe Engeland se vrouekrieketspan Suid-Afrika met slegs twee paaltjies en met net twee balle oor, in die halfeindstryd van die Wêreldbekertoernooi van 2017 uitgeskakel het.

Die Proteas, met Laura Wolvaardt (66) en Mignon du Preez (76*) aan die spits, het toe 218/6 in hul kolfbeurt behaal. Engeland, wat in die eindstryd deur Nieu-Seeland geklop is, het 221/8 aangeteken om die Proteas se hartseerverhaal te skryf.

Môreoggend (Suid-Afrikaanse tyd) in Christchurch, Nieu-Seeland, speel die Proteas en Engeland weer teen mekaar in die tweede halfeindstryd van vanjaar se toernooi om te bepaal wie Sondag vir Australië in die eindstryd op die Hagley-ovaal in Christchurch pak.

Waar die skaal in 2017 in Engeland se guns was omdat hulle tuis gespeel het, meer ervare was en beter peil in die uitkloprondes getoon het, is die skoen vanjaar aan die Proteas se voet.

Hulle het Engeland twee weke gelede in die uitkloprondes geklop en het baie ervaring die afgelope paar jaar opgedoen. Die span beskik ook oor verskeie spelers met grootwedstryd-temperament en hul grootste spelbrekers soos Wolvaardt, Marizanne Kapp, Suné Luus en Shabnim Ismail is almal skitterend op dreef.

Terloops, dis dieselfde span wat in die halfeindstryd teen Engeland in 2017 gespeel het, behalwe die beseerde kaptein Dané van Niekerk, wat weer in die span is.

Suid-Afrika se troefkaart is ongetwyfeld Wolvaardt.

Mignon du Preez in aksie. (Foto: Krieket SA)

Sy is die voorste kolwer in vanjaar se toernooi en is vandeesweek deur die Internasionale Krieketraad as die voorste kolwer in eendagkrieket aangewys.

Haar 433 lopies in vanjaar se toernooi sluit vyf 50-talle in slegs sewe beurte in.

Sy is nou maar slegs 22 jaar oud, maar het reeds as 16-jarige haar buiging vir die nasionale span gemaak. In 2016, tydens haar sewende internasionale eendagwedstryd, het sy reeds haar eerste honderdtal aangeteken. In 2018 was sy die jongste speler wat meer as  ʼn duisend lopies in eendagkrieket (internasionaal) kon aanteken en in 2019 het sy die jongste speler geword om die 2 000-lopiekerf verby te steek.

Luus en Kapp lewer ook blink vertonings met die kolf terwyl Mignon du Preez (52*) in die Proteas se onlangse oorwinning oor Indië haar kolfpeil hopelik herwin het.

Aan die boulfront staan Ismail, Kapp, Ayabonga Khaka en Masabata Klaas uit.

Die Proteas behoort die knoop deur te hak, maar soos enige goeie sportman weet; moenie jou hoenders tel voordat die kuikens uitgebroei is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

absoluut ·

Als van die beste julle en maak ons trots, ons staan bankvas agter julle

Manie ·

Hulle mag dalk indien hulle baie goed speel vir Engeland wen, maar Australië is in ‘n ander klas.

Frank ·

Dis mens se eerste reaksie, Manie, maar vat bietjie die Aus kaptein se 135* uit die telling uit, dan moes ons eintlik ver gewen het

Frank ·

En toe speel hulle nie goed nie… Piesangskil in die semis, eerste keer in die toernooi.
Lee is die vroue-Markram. Gehoop sy speel in die semi soos ons weet sy kan. Maar sê ons dit nie maar altyd van Markram ook nie?
In elk geval, ons vroue het ons trots gemaak. Laura Wolvaardt gekies as Speler van die jaar!

Manie ·

Ek het gewag hiervoor Frank, ek glo nie Lizelle Lee het een keer dubbelsyfers in ‘n kolfbeurt in die toernooi aangeteken nie, dus is hulle gereeld onder druk met haar paaltjie wat vroeg reeds spat. Behalwe Mignon du Preez se 1 goeie telling, het sy ook deurgaans onderpresteer. Sune Luus is in elke wedstryd goed vir 30-40 lopies, maar ook niks meer nie. Laura Wolvaardt en Marizanne Kapp kan nie al die lopies aanteken nie en moes die een of ander tyd ‘goedkoop uitgehaal word, net jammer dit was vandag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.