Dit gons in Australië voor die eerste krieketoets

Dale Steyn. Foto: Michael Sherman/ANA

Dale Steyn. Foto: Michael Sherman/ANA

Daar is onmiskenbare afwagting by die spelers, die media en die ondersteuners oor die eerste kriekettoets tussen die ou vyande, Australië en Suid-Afrika, wat Donderdag (04:30 SA tyd) op die Waca-stadion in Perth begin.

Suid-Afrika het alle rede om die toetsreeks met selfvertroue aan te pak nadat hulle die vorige twee toetsreekse in Australië gewen en in die pas afgelope eendagreeks in Suid-Afrika oortuigend (5-0) met die Aussies klaargespeel het.
Die Waca (Western Australia Cricket Association) se veld het ʼn roemryke tradisie en is die laaste toetsveld in Australië wat nog sy eie kolfblaaie het. Die ander velde se kolfblaaie word van tyd tot tyd ingesink nadat die veld vir Aussie Rules-voetbal gebruik is.

Die Waca is beroemd (of dalk berug?) daarvoor dat dit ʼn vinnige blad met baie wip het en dus uitgeknip vir snelboulers is. Morné Morkel het met sy lengte in die verlede baie wip uit die blad gekry en goed gevaar.

Die Proteas se keurders sal moet besluit of hulle vier snelboulers gaan inspan. Hulle beskik oor ʼn sterk snelaanval met Dale Steyn, Kagiso Radaba, Morne Morkel, Kyle Abbot en Vernon Philander waaruit gekies kan word maar ʼn linksdraaier soos die knaend-bestendige Keshav Maharaj kan waardevol wees.

Die finale elftal vir die toets word eers Donderdagoggend aangekondig.

♦  Nietemin het die Aussies self ʼn paar sneltroewe. Mitchell Starc het 12 maande gelede balle teen 160 km/h afgestuur en hy voer blykbaar ʼn skikbewind as hy in die nette boul. Hy sê hy sou graag nog so ʼn week wou gehad het sodat die diep sny aan sy been behoorlik kan  herstel.

Blykbaar is dit nie vir Starc ʼn probleem om te boul nie, maar hy is effens lugtig dat hy hom kan beseer as hy moet rond duik wanneer hy veldwerk doen.

Josh Hazlewood het nie onlangs saam Suid-Afrika toe getoer nie. Hy is ʼn ruskans deur die  Aussies se keurders gegun en sal uitgerus en reg vir die Proteas wees.

♦  Die eerste toets op die Waca pas Suid-Afrika. Hulle het die laaste twee van drie toetse op die veld, met stellig die ongeskikste toeskouers in hul land, ver gewen – met ses paaltjies (in 2008) en 309 lopies (2012) onderskeidelik.

Die enigste ander kragmeting op die Waca het in 2005 onbeslis geëindig.

In 2005 het Australië  ʼn wenteiken van 490 lopies gestel. Die Proteas het vir 126 boulbeurte gekolf om ʼn onbesliste uitslag te behaal. Jacques Rudolph het sewe uur lank aan sy 102 nun gekolf.
In 2008 het die Proteas 404 lopies vir ʼn oorwinning benodig. Graeme Smith en AB de Villiers het elk ʼn honderdtal geslaan en JP Duminy het in sy eerste toets ʼn onoorwonne vyftigtal aangeteken. Die Proteas het met ses paaltjies gewen.
In 2012 het die Aussies goed begin en die Proteas was op 75/6 teen die planke. Hulle het darem 225 gehaal en toe die Aussies vir 163 uitgehaal. Dale Steyn het agt paaltjies in die wedstryd geneem.

Hashim Amla (196) en AB de Villiers (169) het skitterend gekolf en die Aussies kon nie naastenby die benodigde 639 haal nie en is met 309 lopies geklop. Die Proteas het die toets en die reeks gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.