Dit is mos nie toetskrieket nie …

Aiden Markram lig sy kolf na sy eerste toetshonderdtal (Foto Facebook CSA)

Nee wat, dié soort krieket is nie wat ʼn mens in ʼn toets wil sien nie.

Soos in die eerste toets het Bangladesj die loot gewen en Suid-Afrika in Bloemfontein ingestuur. Dit was, soos in Potchefstroom, heeltemal onverstaanbaar, en hulle is deeglik vir die besluit gestraf.

Suid-Afrika het die boulaanval van Bangladesj vóór etenstyd op die eerste dag van die tweede kriekettoets reeds derderangs laat lyk. Teen uitskeityd was daar al 428/3 lopies op die telbord met net drie kolwers wat uitgehaal is.

Twee van hulle het honderdtalle aangeteken. ʼn Aanvangsvennootskap van 243  tussen Dean Elgar  (113 in 152 balle, 17 viere) en Aiden Markram (143, 186 balle, 22 viere) het bewys wat in die eerste boulbeurt of twee al duidelik was: hier gaan heelwat lopies kom.

Elgar is op 243 uit. Dit was sy vyfde toetshonderdtal van die seisoen en hy het in die kolfbeurt die eerste kolwer geword wat vanjaar deur die duisendgrens gebars het. Hy staan nou op 1056 lopies.

Markram het, na hy sy honderdtal verlede week in Potchefstroom misgeloop het toe hy op 97 uitgehardloop is, Vrydag die driesyfer-kerf bereik. Ongeag die powere boulwerk het hy gewys hy het oordeel en gehalte – en die twee maklike toetse was moontlik die regte opwarmer vir wat vorentoe wag in ʼn loopbaan wat groot hoogtes behoort te bereik.

Hy het met middagete 54 lopies teenoor die 72 van Elgar gehad, maar na rustyd vinnig ingehaal.

Temba Bavuma (7) het gekom en gegaan nadat hy Markram op 288/3 pawiljoen toe moes volg. En toe het Hashim Amla (89 nun in 99 balle) en Faf du Plessis (62 nun in 92 balle) saam 140 in hulle ononderbroke vennootskap vir die vierde paaltjies geslaan.

Vir ʼn volledige telkaart en statistiek, klik op die volgende skakel: http://www.espncricinfo.com/series/10904/scorecard/1075503/South-Africa-vs-Bangladesh-2nd-Test-bangladesh-in-south-africa-test-series

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charl ·

Dis seker maar ook wat die NZ rugbyspan voel as hul teen ons rugby speel…?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.