Dit is tyd dat Markram vlamvat

Aiden Markram is ’n uitstekende speler; hy sukkel net deesdae op die toetsverhoog. Foto: Rodger Bosch.

13, 1, 7, 31, 8, 16.

Nee, dit is nie die antwoord op een of ander ingewikkelde wiskundige vergelyking of ’n onsuksesvolle poging om jou skoolliefde se selfoonnommer te onthou nie – dit is eerder Aiden Markram se tellings in sy laaste ses toetsbeurte.

Eintlik is dit verspot maklik om van Markram die kolwer te hou. Hy is elegant op die voorvoet, sterk op die agtervoet en laat kriekethoue net pleinweg goed lyk.

As ’n gesoute afrigter ooit na ’n foto soek om sy kriekethandleiding te bemark, sal ’n kiekie van die 27-jarige kolwer se dryfhoue uitstekend werk.

Voeg daarby tellings van 97, 143 en 125 in sy eerste drie toetse, gevolg deur ’n manjifieke 152 teen Australië ’n paar beurte later en ’n mens kan verstaan waarom puriste opgewonde naderskuif wanneer Markram uitstap om te kolf.

Die enigste probleem is dat hy deesdae (in toetskrieket, altans) weer net so vinnig die pad terug na die kleedkamer moet aanpak.

Hy kon in drie toetse teen Indië net 76 lopies aanteken, terwyl hy in sy laaste 19 toetse ’n eina-kolfgemiddeld van 26,47 handhaaf.

Aiden Markram op die aanval. Foto: Facebook.

Vir iemand wat oor die vermoë beskik om boulaanvalle te verrinneweer – kyk maar net na sy onlangse vertoning by die T20-Wêreldbeker – is dit net nie goed genoeg nie.

Tog is sy plek in die toetsspan seker nie nou al in gedrang nie.

Met ’n positiewe toets vir Covid-19 wat Keegan Petersen uit die komende reeks teen Nieu-Seeland hou, sal Sarel Erwee waarskynlik sy skoene as no. 3-kolwer volstaan.

Dit beteken dat Markram na alle waarskynlikheid steeds die kolfbeurt saam met Dean Elgar sal open.

Gelukkig kan hy op ’n skoon bladsy teen die Kiwi’s begin – hy het nog nooit ’n toets teen hulle gespeel nie en boonop sal die gevaarlike Trent Boult (Nieu-Seeland se voorste bouler) die wedstryd in Christchurch misloop.

Hashim Amla het al vantevore gesê dat ’n kolwer net so goed soos sy volgende kolfbeurt is. En Markram is immers goed genoeg om ’n honderdtal in enige van sy volgende beurte aan te teken.

Mits hy natuurlik nie konsentrasie verloor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Dit word seisoen na seisoen, game na game gese “ons het nog nie gesien wat hy kan doen nie” wel, dis tyd dat hy gedrop word, duidelik nog nie opgewasse vir toets krieket nie. Stuur om terug premier toe, dan hy homself bewys.

George ·

Wie se skuld is die collapse Dean? Die bal? Die veld? Die pitch? Die crowd? wie sin, ek sien uit vir jou verskonings. of het ons gegaan van Favorites 5min voor die game, en nous ons die ” underdogs” volgens jou? Die Proteas was mos volgens jou die “underdogs” tuis teen subcont span lol

George ·

Jammer Faf en Kie is nie daar om met die bal te peuter nie ;)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.