Dit reën sesse by IPL

Ambati Rayadu kolf tydens die VIVO IPL T20 krieketwedstryd teen die Sunrisers Hyderabad in Hyderabad, Indië (22 April 2018). Foto: Mahesh Kumar A./AP

Die Indiese Premierliga het homself in die laaste paar jaar as ʼn groot fokuspunt onder krieketliefhebbers gevestig. Die skouspel spog jaarliks met die voorste spelers in die wêreld wat vir groot geld hul beste uitstal voor volgepakte stadions.

Die agt spanne kry min ruskans as ʼn mens in ag neem dat daar sestig wedstryde in net sewe weke gespeel word. Elke span speel 14 wedstryde voordat die uitspeelwedstryde plaasvind. Die halfpadmerk van vanjaar se reeks is hierdie week bereik.

Wanneer mens na die prestasies van die spanne kyk, vaar die Chennai Super Kings (6 gewen en 2 verloor) en die Sunrisers Hyderabad (ook 6 gewen en 2 verloor) tans die beste. Die Kings XI Punjab (5 gewen en 2 verloor) blaas in hul nek in die derde plek.

Onder die kolwers is Rishubh Pant (375) en Ambati Rayudu (370) tans die voorste lopiemakers. AB de Villiers is tiende met 280 lopies in ses beurte. MS Dhoni het die beste gemiddeld van 71.50 lopies per beurt nadat hy vier keer nie uit nie was. Die hoogste telling in ʼn beurt is deur Shane Watson aangeteken (106).

Die Wes-Indiër Andre Russell spog met meer as twee lopies wat hy gemiddeld per bal aanteken (202.94). AB de Villiers en Chris Gayle het elkeen al 23 sesse gemoker.

Die meeste paaltjies is tot dusver deur Trent Boult (13) platgetrek. Imran Tahir is dertigste met ses paaltjies. Ankit Rajpoot spog met die beste boulsyfers met sy 5 paaltjies vir net 14 lopies. Umesh Yadav het op sy beurt reeds 78 balle afgestuur waarvan daar nie lopies geslaan kon word nie.

 Die vinnigste bal by vanjaar se toernooi is deur Billy Stanlake afgestuur (151.38). Hy is die enigste speler wat tot nou toe die 150 km/h-merk kon bereik.

 Die eindstryd van vanjaar se toernooi word op 27 Mei gespeel.

 Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.