Donald terug in sy geliefde Bloemfontein

Allan Donald gaan die Vrystaatse krieketspan se nuwe hoofafrigter word. Foto: ANA.

Bloemfontein het ’n spesiale plek in Allan Donald se hart. Hy het in dié stad matriek geskryf, sy eersterangse debuut vir die Vrystaat in die 1980’s gemaak en selfs sy 300ste toetspaaltjie vir die Proteas daar geneem toe hy destyds vir Nieu-Seeland se Shayne O’ Connor been voor paaltjie betrap het.

Nou, ná jare lange speel- en afrigtingswerk in onder meer Engeland, Nieu-Seeland, Sri Lanka en Indië, keer hy terug na die Rosestad om die Knigths se hoofafrigter te word.

Die 53-jarige Donald sal amptelik op 1 Mei begin en die opgewondenheid in die Bloemfonteinse krieketkringe is duidelik sigbaar.

Allan Donald. Foto: ANA.

“Ons het gevoel die Knights het iemand met internasionale afrigtingservaring nodig; iemand wat al op die hoogste vlak gespeel én afgerig het om die span na die volgende trappie te neem,” het die Knights se keurderbaas, Wayne Schonegevel, gesê.

Buiten sy 330 toetspaaltjies en meer as 200 eendagkrieketpaaltjies vir die Proteas, het Donald ervaring as afrigter saam met graafskappe soos Warwickshire en Kent, asook met internasionale spanne soos Engeland, Nieu-Seeland en Sri Lanka. Boonop was hy ook vir ’n geruime tyd Suid-Afrika se boulafrigter in die suksesvolle Gary Kirsten-era, toe die Proteas die wêreld se voorste toetsspelende land was.

“Allan is een van Suid-Afrika se voorste krieketspelers van alle tye en iemand na wie die spelers opkyk. Die feit dat hy ook ’n hegte verbintenis met die streek het, maak van hom die beste kandidaat om Vrystaatse krieket na hoër hoogtes te neem,” het Schonegevel afgesluit.

Op sy beurt is Donald opgewonde oor die nuwe hoofstuk van sy roemryke krieketloopbaan.

“Hierdie afrigterspos is iets waarna ek al vir ’n geruime tyd uitsien en ek kan nie wag vir die uitdaging nie,” het Donald gesê.

“Ons het nie die beste van seisoene in die afgelope paar jaar gehad nie, veral as jy na ons bestendigheid en ons vermoë om wedstryde en trofees te wen, kyk. Ek was al in die meeste internasionale spanne se kleedkamers en wil graag daardie internasionale atmosfeer in die Knights se kleedkamer laat vlamvat.”

  • Donald is onlangs in die Internasionale Krieketraad se heldesaal opgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Allan, gaan help die Proteas ook so bietjie asseblief. Die boulers kom nie die mas op nie en maak die lewe baie moeilik vir die kolwers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.