Donald verruil Bloemfontein vir Bangladesj

Allan Donald is ’n gesoute afrigter; hier is hy saam met Morné Morkel in sy dae as die Proteas se boulafrigter. Foto: Ishara S. Kodikara/AFP.

Allan Donald, een van Suid-Afrika en die wêreld se beste boulers nóg, verruil binnekort Bloemfontein vir Bangladesj nadat hy as dié land se snelboulafrigter aangestel is.

Die 55-jarige voormalige Protea-speler is in Mei 2020 as die Knights se hoofafrigter aangestel en die “Wit Blits” het ongetwyfeld ’n spesiale verbintenis met die Rosestad.

Hy het in dié stad matriek geskryf, sy eersterangse debuut vir die Vrystaat in die 1980’s gemaak en selfs sy 300ste toetspaaltjie vir die Proteas daar geneem toe hy destyds vir Nieu-Seeland se Shayne O’ Connor been voor paaltjie betrap het.

Hy het ook die Cheetahs-rugbyspan vir hul puik vertoning teen die Leeus in die afgelope naweek se Curriebekerstryd geloof. Die Vrystaters het op alle suiers gevuur en hulle het die Johannesburgers met 66 -14 oorrompel.

“Dit was weer eens, sommer so uit die staanspoor, skitterende hardlooprugby deur die manne in die wit truie,” het die trotse Bloemfonteinse legende op sosiale media gedeel.

Hy is een van die beste snelboulers nóg. Foto: Twitter.

Maar ’n kans om jou afrigterstempel saam met ’n internasionale span af te druk, is iets wat enige breier met albei hande sal aangryp en Donald het ’n kontrak tot die komende T20-Wêreldbeker met die Tiere onderteken.

“Ek is ongelooflik opgewonde om deel van die Bangladesj-opset vir die volgende nege maande te wees. Dit is wonderlik om weer terug op die internasionale verhoog te wees en saam met talentvolle snelboulers te werk,” het hy gesê.

Op sy beurt is die Bangladesj-krieketraad net so gretig om die snelboullegende as deel van sy afrigterspan te hê: Donald was immers die eerste Suid-Afrikaner om 300 paaltjies vir sy land te neem, terwyl hy ook in die Internasionale Krieketraad se heldesaal opgeneem is.

Die Stadium Talk-webwerf het hom vroeër as Suid-Afrika se beste bouler nóg bestempel.

“Allan Donald was Suid-Afrika se eerste superster ná die land se hertoelating tot die internasionale krieketverhoog. Hy was vurig en hy het die beste kolwers van sy era laat bontstaan,” lui ’n plasing op die webwerf.

Volgens die Bangladesj-krieketraad se Jalal Yunus tel Donald se ervaring en kundigheid beslis in sy guns.

“Allan het al saam met baie spanne (Engeland, Nieu-Seeland, Warwickshire ensovoorts) gewerk. Hy was Suid-Afrika se boulafrigter en word saam met sir Richard Hadlee, Dennis Lillee en Glenn McGrath as een van die beste snelboulers nóg uitgesonder. Ek weet hy sal ons snelboulers tot groter hoogtes lei,” het Yunus die afgelope Vrydag gesê.

Bangladesj toer binnekort na Suid-Afrika en Donald sal dan by die span aansluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.