Donald word in krieket se heldesaal vereer

Allan Donald. Foto: ANA.

Met sy witgesmeerde oorlogsverfgesig was Allan Anthony Donald die skerpste pyl in die Suid-Afrikaanse krieketspan se boulaanvalskoker.

Wanneer Kepler Wessels of Hansie Cronjé die gang van die wedstryd wou verander, het hulle die bal in Donald se rigting gegooi. En die “Witblits” het selde teleurgestel.

Donald – wat in die era van Wes-Indiese snelbouloorheersing as die “vinnigste wit bouler ter wêreld” gedoop is – is pas in die Internasionale Krieketraad se heldesaal opgeneem.

Hoewel hy sy loopbaan weens Suid-Afrika se tyd in die sportwildernis eers op 25-jarige ouderdom koers gekry het, het hy steeds die rekords laat spat.

Nie net het hy Hugh Tayfield se rekord vir die meeste paaltjies (170) verbeter nie, hy het ook die eerste Suid-Afrikaner geword om 200, 250 en 300 toetspaaltjies te neem. Hy het uiteindelik 330 paaltjies in 72 toets teen ’n superster-gemiddeld van 22,25 lopies per paaltjie geneem.

Donald het gereeld die wêreld se voorste kolwers laat bontstaan met sy kartetse: Dink aan Steve en Mark Waugh op die Sydney Cricket Ground in 1997 of aan Mike Atherton op Trent Bridge in 1998.

Veral die toets op Trent Bridge word deur baie as die mees intense stukkie vyfdagkrieket van die 1990’s bestempel.

Engeland moes 247 vir ’n oorwinning in die vierde toets van die reeks aanteken en was goed op pad met die onverskrokke Atherton voor die paaltjies.

Met sy telling op 27 het een van Donald se aflewerings – ’n kort vinnige bal van om die paaltjies – sy handskoen getref en Mark Boucher het na regs geduik om ’n goeie vangskoot te benut.

Die reeks was egter deurspek met skeidsregterflaters en skeidsregter Steve Dunn het Atherton nie uitgegee nie. Nodeloos om te sê het die Engelse openingskolwer ook nie uit sy eie terug na die kleedkamers gestap nie.

Vir die volgende 40 minute het Donald vir Atherton met kort aflewerings gepeper, maar die Engelsman het uiteindelik ’n onoorwonne 98 geslaan om die wa deur die drif vir die Britte te trek.

In eendagkrieket was die Witblits ook ’n sterspeler. Of hy nou vir Geoff Marsh met die eerste bal van die 1992-Wêreldbeker “uitgehaal” het (Marsh is ook nie uitgegee nie), of 6/23 teen Kenia in Nairobi geneem het, Donald kon ook met die witbal toor.

Tog sal hy waarskynlik die beste onthou word vir die uithardloopfiasko in die 1999-Wêreldbeker, toe hy en Lance Klusener op Edgbaston nie heeltemal mekaar se taal gepraat het nie.

Met Donald se paaltjie het Australië na die eindstryd van die toernooi deurgedring. Tog vergeet baie mense van sy 4/32 met die bal om die Aussies tot 213/9 te beperk.

Hy was ’n held vir baie jong krieketspelers in die 1990’s. En Allan Donald verdien sy heldesaalverering dubbel en dwars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanL ·

Elkeen is sekerlik geregtig op sy eie opinie, maar ek sal sekerlik Donald nie “die beste onthou” vir die uithardloop fiasko in die 1999 Wereldbeker nie. Daai episode gooi ek nog altyd “voor die deur” van die in-vorm, senior kolwer op daai stadium naamlik Lance Klusener, wat nog balle oorgehad het in daai boulbeurt om die wenlopies te slaan. Maar toe slaan hy net en hardloop. In NABETRAGTING sou mens kan redeneer dat Donald veilig sou wees as hy dadelik ook gehardloop het, maar gegewe wat die vorige bal gebeur het, kan mens Donald nie kwalik neem dat hy nie dit gedoen het nie.

Ek onthou hom vir sy fantastiese boulwerk – veral sy twee vurige sessies teen Atherton (soos genoem hierbo) asook teen Steve Waugh in Centurion.

Ian ·

Die bal waarmee hy Tendulkar geboul het in SA, dink op Wanderers was ook ‘n hoogtepunt.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.