Draaiers gee Proteas hoop

Pakistan se Faheem Ashraf slaan ‘n hou op die derde dag van die tweede toets tussen Pakistan en Suid-Afrika in Rawalpindi. (Foto: Aamir Qureshi/AFP)

George Linde het drie paaltjies platgetrek en Keshay Maharaj twee, terwyl Suid-Afrika en Pakistan dit Saterdag op die derde dag van die tweede toets in Rawalpindi uitgespook het.

Pakistan het die dag afgesluit op 129/6 met ʼn algehele voorsprong van 200 en vier paaltjies staande op ʼn wispelturige kolfblad.

Linde (3/12) en Maharaj (2/74) het Pakistan se toporde laat kantel voor ʼn vennootskap van 52 lopies tussen Faheem Ashraf (29) en Mohammad Rizwan (28*) om die sesde paaltjie bestendigheid aan Pakistan se kolfbeurt gebring het.

Linde het Ashraf terug kleedkamer toe gestuur kort voor spel weens swak lig beëindig is.

Die Proteas kon in beheer gewees het as vangkanse van Ashraf en Rizwan nie verbrou is nie.

Dean Elgar het Ashraf ʼn tweede kans gegee toe hy nog geen lopies aangeteken het nie. Rizwan was op vier toe Rassie van der Dussen ʼn moeilike vangkans van Maharaj se boulwerk af verbrou het.

Pakistan sal hoop om nog 50 lopies op dag vier by te voeg om sy wenkans te verbeter. Pakistan sal ook die reeks kan beklink nadat hy die eerste toets in Karatsji met sewe paaltjies gewen het.

Hasan het gesê kolftoestande is moeilik.

“Om 200 lopies op hierdie kolfblad te jaag, sal nie maklik wees nie. Ons sal probeer om 240 tot 250 te kry en met ons draaiers sal dit nie ʼn maklike teiken wees nie.”

Die hoogste wentotaal wat in die vorige tien toetse in Rawalpindi gejaag is, was toe Sri Lanka 220 moes aanteken om Pakistan in 2000 met twee paaltjies te klop.

Linde sê Suid-Afrika is honger om te wen.

“Uit die aard van die saak moet ons hierdie toets wen om die reeks gelykop te maak. Ek dink ons sal enigiets onder 300 vat om te jaag,” het hy gesê.

Vroeër het Hasan boulsyfers van 5/54 aangeteken om Suid-Afrika se eerste beurt tot 201 te beperk. Dit het aan die tuisspan ʼn voorsprong van 71 besorg.

Pakistan het 272 in sy eerste beurt aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.