Draaiers tem Indiërs in eie agterplaas

Australië het die derde eendagwedstryd teen Indië met 21 lopies gewen. Foto: Twitter.

Indië het sy eerste tuisreeksnederlaag in vier jaar gely toe Australië die derde eendagwedstryd tussen die twee spanne met 21 lopies in Chennai gewen het.

Die Aussies het ongetwyfeld besluit om vuur met vuur te beveg en Mitchell Marsh het saam met Travis Head 68 vinnige lopies om die eerste paaltjie aangeteken.

Hoewel Hardik Pandya daarna drie vinnige paaltjies geneem het om die besoekers tot 269 lopies te beperk, het Steve Smith se span nie gehensop nie.

Selfs toe Rohit Sharma en Shubman Gill teen meer as sewe lopies per boulbeurt geklof het en Virat Kohli nóg ʼn vyftigtal in witbalkrieketwedstryde aangeteken het.

Die Aussies se draaiers, Ashton Agar en Adam Zampa, het amok gemaak om ses Indiese kolwers terug na die kleedkamer te stuur.

Volgens Zampa – wat as die speler van die wedstryd aangewys is – het Agar die momentumpendulum in Australië se guns geswaai.

“Ashton het eintlik die wedstryd vir ons gewen en ek dink nie ek verdien hierdie toekenning nie. Tog het ek al vantevore sukses op hierdie veld gesmaak en ek geniet die uitdaging,” het die blonde draaier gesê.

Nodeloos om te sê is Smith ook in sy noppies met sy span se vertoning.

“Ek is trots op die ouens. Die stertkantkolwers het gehelp dat ons amper 270 lopies kon aanteken, nadat dit aanvanklik gelyk het asof ons nie eens 220 lopies sou kon bymekaarskraap nie. Daarna het ons gereeld paaltjies geneem om die wa deur die drif te trek.”

  • Opsomming van telkaart:

Australië 269/10 in 49 boulbeurte: Mitchell Marsh 47, Alex Carey 38 en Hardik Pandya 3/44.

Indië 248/10 in 49,1 boulbeurte: Virat Kohli 54, Hardik Pandya 40 en Adam Zampa 4/45.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.