Drama op Lord’s

Engeland se Liam Plunkett tydens die Krieketwêreldbeker teen Nieu-Seeland by Lord’s in Londen (14 Julie 2019) (Foto: AP Photo/Aijaz Rahi)

Twee spanne wat nog nooit die Wêreldbeker-kriekettoernooi kon wen nie, het waarskynlik die opwindendste eindstryd van alle tye opgedis.

Engeland en Nieu-Seeland het vandag op Lord’s gesorg dat ondersteuners almal môre besoeke by ’n plaaslike nael-tegnikus moet aflê; want dit was omtrent vir jou ’n naelbytstryd vir 102 boulbeurte.

Die Kiwi’s se Kane Williamson het besluit om eerste te kolf en die Nieu-Seelanders het 241/8 op ’n groenerige kolfblad aangeteken.

Henry Nicholls (55) en Tom Latham (47) het die beste met die kolf gevaar, terwyl Chris Woakes (3/37) Liam Plunkett (3/42) die Britte se voorste boulers was.

Engeland spog met ’n swaargewig-kolflys en daar is verwag dat Jason Roy, Joe Root, Jonny Bairstow, Jos Buttler en Ben Stokes maklik die wentelling sou slaan.

Maar op 86/4 het die tuisspan gesteier en dit het ’n spesiale beurt van die veglustige Stokes (84*) gekos om die Engelse kastaiings uit die vuur te krap.

Stokes – wat ’n seisoen of wat gelede aangekla is omdat hy glo in ’n vuisgeveg buite ’n kuierplek betrokke was – het uitstekend met Buttler (59) gekombineer om die telling na 196/4 in die 45ste boulbeurt te neem. Natuurlik was daar ook ’n tikkie geluk aan die tuisspan se kant toe die bal oor die grens gerol het nadat Martin Guptill se gooi Stokes se kolf getref het.

Tog het die 50ste boulbeurt (geboul deur Trent Boult) vir hope drama gesorg: ’n Stokes-ses en twee uithardloopkanse het gesorg dat Engeland hul beurt op 241/10 geëindig het en die eerste Super Boulbeurt in ’n Wêreldbeker-eindstryd was op die spel.

Engeland het eerste in die Superboulbeurt gekolf en 15 lopies aangeteken, waarna Guptill en Jimmy Neesham (’n ietwat verrassende keuse) probeer het om die wenlopies vir die Nieu-Seelanders te slaan.

Die besluit om met Neesham te open het na ’n meesterstuk gelyk, toe hy vir Jofra Archer vir ’n reuse-ses geslaan het.

Maar Archer het sterk vertoon en Nieu-Seeland moes twee lopies van die laaste bal slaan om die silwerware te wen.

Guptill kon egter net die bal sover as Roy op die grens slaan en Neesham is deur die Buttler/Roy-kombinasie uitgehardloop toe die Kiwi-kolwers vir die tweede lopie gedraai het.

Hoewel die telling weer eens gelykop was, wen Engeland omdat hulle meer grenshoue geslaan het.

Dit is die eerste keer sedert 1996 dat ’n span buiten Indië of Australië die Wêreldbeker gewen het.

Dit het die perfekte sportdag, saam met die Protea-netbalspan se Jamaika-wen, die epiese Djokovic/Federer-tweestryd en Daryl Impey se skofsege by die Tour de France, afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Frans C ·

Die was ‘n opwindende en ook ‘n bisarre wedstryd waarin NZ mi nie deur Engeland geklop is maar deur ‘n reêl van krieket en ‘n kompetisie reêl. Wie sou kon dink dat nadat Stokes ‘
n ses geslaan het,het met die volgende bal moes hardloop en duik om twee lopies te voltooi,toe ‘n ingooi van die grens af sy kolf tref terwyl hy uitgestrek op die grond lê.

Die spat van die kolf af grens toe en kry Engeland 4 pasella lopies wat hul instaat stel
om die telling gelykop te maak en in ‘n ‘Super over’ te speel,wat ook gelykop eindig.

Dit was dus mi ‘n hol oorwinning vir Engeland en is NZ eerder geklop deur ktieket en
kompetisie reëls as Engeland.

Koos Dup ·

Stem 100% saam jou. Die Engelse prys natuurlik hul span, en so ook wêreldwyd, maar indien dit nie vir daardie 4 pasella lopies was nie, was NZ vandag kampioene. Min word daaroor gesê, maar ek glo dit sal nog baie bespreek word sodra die euphoria afneem. In my opinie het NZ die wedstryd gewen, maar ongelukkig is dit nie die werklikheid.

JohanL ·

FransC, ek het weens omstandighede nie die wedstryd gekyk nie, maar gehoor van die betrokke insident. Kan nie anders as om saam met jou te stem nie. Die MCC kan gerus na enkele reels kyk en oorweeg om te verander.

Die insident wat jy noem is die een reel – die ongeskrewe etiket in krieket is dat die kolwer nie ekstra lopies sou probeer hardloop het nie. Ongelukkig vir NZ het die bal oor die grenstou gegaan, wat dit ‘n “binne-die-reel” en wettige oorgooi 4 lopies gemaak het. My punt is egter dat krieketspelers die belaglikheid van daai reel erken en hul optrede aanpas, om nie die oorgooilopies “op te eis” nie. Derhalwe ‘n duidelike aanwysing aan die MCC deur die spelers self dat daai een reel is waarna gekyk moet word.

‘n Ander reel wat ek dink weer na gekyk moet word, is die kwessie van ‘n grenshou of nie. Ek het tans nie ‘n oplossing of aanbeveling nie, maar my gevoel is net ‘n bal wat deur goeie veldwerk gekeer is, maar ‘n 4 word, net omdat die veldwerker se skoenpunt die grenstou geraak het, is nie reg nie. Die bal was immers nog nie teen die grenstou nie, hoe kan dit 4 lopies wees? Dink aan sokker – die speler kan buite die veld wees solank die bal binne is.

Die MCC is partykeer net te rigied (net soos die IKK) en kort bietjie nuwe denke.

Therese ·

Stem saam.
“n Mens wonder ook nadese of een armsalige “Super over” regtig die geskikste manier is om iets gróóts soos ‘n WB eendag -wedstryd toernooi mee te beslis?
Dit is perfek vir die blitsige 20/20 krieket, maar sowaar as vet, dit het nie vir ‘n regverdige uitslag gesorg op Lords nie.

Ralph ·

Stem 100% saam jou Koos Dup. Krieketreëls word mos in Engeland opgestel.

alwyn burger ·

Jason Roy was duidelik bvp met die heel eerste bal maar het weggekom met ñ “umpires call”. NZ moes gewen het!?

JohanL ·

Alwyn, daai betrokke geval is natuurlik ‘n ICC reel wat ingebring is om tegnologie te gebruik. Ricky Ponting is ‘n groot voorstander dat die “umpire’s call” nie moet bestaan nie. Dit moet ‘n Ja of Nee wees. In die geval van Roy sou “hit wickets” Ja gewees het en Roy sou binne “Ponting se interpretasie/aanbeveling” uit gewees het. Ek self is ‘n ondersteuner van Ponting se interpretasie.

Maar ja, die IKK is self maar ‘n spulletjie wat mens eers vuur onder moet maak. Dink maar ook aan die wyse waarop die einste eindstryd se resultaat bepaal is. Belaglik. Ek sou eerder NOG ‘n superbeurt gespeel het (wat is die kans op 3 agtereenvolgende gelykop uitslae).

Cora Simpson ·

Ek was ontsettend bly vir Engeland. Hulle het in hulle tuis land die vaendel (net net) laat hoog vlieg. Dit was vreeslik opwindend. Welgedaan !!

Therese van Schalkwyk ·

Jammer, ‘n hol oorwinning, en ‘n WB-toernooi wat op ‘n bisarre noot en anti-klimaks geëindig het.

Die Pa van ‘n Engelse speler voel dat die trofee gedeel behoort te word, maar selfs dít sou onregverdig wees teenoor Nieu-Seeland, want na my mening het hulle hierdie wedstryd gewen. My hart gaan uit na die spelers en ondersteuners. So ‘n geleentheid kom dikwels net een keer in ‘n speler se leeftyd.

Wie sou nou ooit kon dink dat die aantal grenshoue in die fynskrif genoem word?
Die Black Caps het boonop drie paaltjies staande gehad, terwyl hulle die Engelse uitgeboul het! Om van die vloekskoot ‘grenshou’ nie eers te praat nie. Kan outydse gesonde verstand nie net soms seëvier nie?
Ag nee wat, dis ‘n tragedie, eerder as ‘n triomf.

Frans C ·

‘n Mens wil nou werklik nie die verantwoordelikheid van die skeidsregter af wegneem.tog glo ek waar daar ‘n omstrede beslissing is, die TMO die skeidregter moet in te lig dat in die lig van tegnologie sy beslissing verkeerd was en hom kans gee om sy beslissing te heroorweeg.

In die geval sou twee van die Suid Afrikaanse skeidsregtig NZ begunstig en nie benadeel
het nie.Ross Taylor sou nie uitgewees het nie,want bal sou oor paaltjie gegaan het en Jason Roy sou nie ‘n ‘first ball duck’ oorleef het nie.is tegnolgie nie daar om skeidsregters instaat te stel om korrekte beslissings sonder om die span in ag te neem,te neem nie?

Geluk ·

Kom nou. Almal wat van bisarre reels praat en wat “as” die en wat “as” dai. Wat “as” die Proteas beter gespeel het, dan kon ons die beker huis toe gebring het. Geluk aan die wenspan. Niks is vreemd nie en geen reël het nodig om hersien te word nie. Ja, ek stem saam, Eng het so tikkie geluk gehad, maar wat daarvan, goed vir hulle. Kom ons wens liewer die wê
reldbeker wenners geluk en ook Eng as ń nasie wat ń wonderlike toernooi aangebied het.

Therese ·

@Frans C
Jy is reg oor die tegnologie wat beskikbaar is, maar so lukraak aangewend word dat dit bydra tot die verwarring i.p.v. om dit uit te skakel.
In ‘n WB-eindstryd is ‘menslike foute’ bykans onvergeeflik as die groot skerm, en die tv-skeidsregter met sy reëlboekie, byderhand is.
Die Rugby WB lê ook en wag!

Frans C ·

Wat my die meeste pla van die toepassing van tegnologie by die onlangse krieket wêreldbeker is dat dit bv in Ross Taylor se geval agterna op die groot skerm gewys word
dat die skeidsregter se beslissing verkeerd was.

Wat help dit nou.?Miljoene mense weet nou die skeidsregter was verkeerd en die speler terug in die pawiljoen het rede om verontreg te voel want die beslissing het sy span op die agtervoet geplaas en die ander span bevoordeel.

So wat is die oplossing?.Soos in sokker moet die ‘Video-refs’ wat die wedstryd dophou op verskillende groot skerms in die videosaal die skeidsregter onmiddellik inlig dat sy beslissing dalk verkeerd is.Die skeidsregter op die veld wys dan die TV-teken en konsulteer ‘n video soos in sokker en bly staan by sy beslissing of wys dat hy dit hersien het.

Dit kan moontlik eers by omstrede BVP gebruik word en daarna kan dit op die groot skerm gewys word.Dit sal keer dat ‘n skeidsregter twee keer sy naam met ‘n plank slaan en ‘n span onregverdig voordeel uit ‘n skeidsregter se foute trek. Daar is dan geen asse of gissings nie en almal,spelers inkluis gaan meer tevrede huistoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.