Drie groentjies in Engeland se 14-tal vir toets

Dawid Malan (Facebook)

Daar kan dalk 13 Suid-Afrikaners in die derde kriekettoets tussen Engeland en Suid-Afrika op die Oval speel – en die Proteas het reeds onder die een se kolfwerk deurgeloop.

Dawid Malan is in Engeland se 14-tal vir die vierde toets ingesluit, en Engeland oorweeg dit glo ernstig om hom in die plek van die draaier (en glo?) goeie kolwer Liam Dawson te kies. Die toets begin Donderdag.

Dawson het in die eerste toets in albei beurte met die tweede bal moes terugstap, en het in sy vier kolfbeurte net 13 lopies aangeteken en 5/169 geneem.

Malan se insluiting sal Engeland ‘n ekstra kolwer gee. Hulle het reeds vir Jimmy Anderson, Stuart Broad, Mark Woods/Toby Roland-Jones, Ben Stokes en Moeen Ali. Dan sal die kaptein Joe Root, Malan en die nuweling op nommer drie, Tom Westley, met draaiballe ook die een gaping so effe kan toestop voor die nuwe bal geneem word.

Die kolfblad kan Malan se buiging al dan nie bepaal.

♦  Malan, wat op Boishaai in die Paarl op skool was, het in die derde T20-wedstryd teen Engeland 78 vanaf net 44 balle in Engeland se beurt van 181/8 geslaan. Sy beurt het 12 viere en twee sesse ingesluit.

Engeland het met 19 lopies gewen en skoonskip in die reeks van drie wedstryde gemaak.

Maar Malan is nie net ʼn slaner nie. Hy het vir die Lions, Engeland se naasbeste span, in Junie in die eerste wedstryd teen die SA A-span wat ook in Engeland was, 125 van net 110 balle (15 viere en ʼn ses) aangeteken. Engeland het die vierdaagse wedstryd met nege paaltjies gewen.

In 142 eersterangse wedstryde waarin hy 241 keer gekolf het, het Malan reeds 18 honderdtalle en 43 vyftigtalle aangeteken. Die linkskolwer is boonop ʼn knap bybeekbouler met ʼn beste ontleding van 5/61.

♦  Keaton Jennings, wat in die eerste twee toetse teen die Proteas gespeel het, was op KES op skool, waar hy en Quinton de Kock skoolmaats was. Hy het in sy vier beurte teen Suid-Afrika gesukkel en kry waarskynlik op die Oval sy laaste kans as Engeland se aanvangskolwer.

Sy pa, Ray, ʼn paaltjiewagter, het Suid-Afrika afgerig en was ongelukkig om nooit self toetskrieket te speel nie.

♦  Tom Westley is in die plek van Gary Ballance as nommerdriekolwer ingesluit. Ballance, wat steeds sukkel om sy plek in die span te behou, het sy vinger gebreek en is nie oorweeg nie.

Westley het drie honderdtalle in sy laaste ses kolfbeurte aangeteken, onder meer vir die Lions teen die SA toerspan in die opwarmwedstryd voor die eerste toets waar hy met Kagiso Rabada, Morné Morkel, Chris Morris en Keshav Maharaj te doene gekry het.

♦  Toby Roland-Jones kan dalk die derde debutant in die span wees. Mark Wood het in die tweede toets nie met sy boulwerk beïndruk nie en het glo las van ʼn hakbesering. Roland-Jones was ook in die tweede toets in die Engelse groep, maar wag steeds om vir sy eerste toets gekies te word.

Die Engelse 14-tal:

Joe Root (kapt.), Moeen Ali, Jimmy Anderson, Jonny Bairstow, Stuart Broad,  Alastair Cook, Liam Dawson, Keaton Jennings, Dawid Malan, Toby Roland-Jones, Ben Stokes, Tom Westley, Mark Wood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.