Drie paaltjies binne vyf lopies plaas druk op Proteas

Hashim Amla – op stryk voordat hy uitgehardloop is. (Foto: GB Jordaan)

Teen die Proteas se versoek en die verwagting in, kry Indië toe Saterdag ʼn kolfblad wat eerder aan hul tuisblaaie herinner as dít wat Suid-Afrika wou gehad het.

Aan die stadige kant, met minder wip en beweging van die blad af, was houespel op die eerste dag van die tweede kriekettoets in Centurion effens moeiliker en lopies nie so geredelik bekombaar as waarvoor Suid-Afrika gehoop het nie.

Maar dit was nietemin ʼn blad waarop baie lopies moontlik is, en Indië sou Saterdagaand baie tevrede gaan slaap het. Ondanks twee amperse honderdtalle was Suid-Afrika op 269/6 nie soveel in beheer as wat hulle moes wees nie.

Daarvoor het hulle net hulself te blameer.

Drie paaltjies het binne vyf lopies geval. Die telling het op 246/2 gestaan toe Hashim Amla deur skitterende veldwerk van Hardik Pandya uitgehardloop is; Quinton de Kock is op dieselfde telling met die eerste bal uitgehaal; en toe het Vernon Philander met ʼn onbesonne lopie dit 251/6 gemaak toe ook hý uitgehardloop is.

Vroeër het AB de Villiers (20) saam met Markram 51 lopies om die derde paaltjie daargestel.

Die aanvangskolwers Dean Elgar, wat hard gewerk het, soos hy maar is nie vloeiend voorgekom het nie, en Aiden Markram het 85 lopies om die eerste paaltjie daargestel. Elgar het ʼn stadige 31 in 83 balle aangeteken en Markram, wat gewys het hoed goed hy werklik is, het die tweede keer in sy kort toetsloopbaan sy paaltjie in die 90s verloor.

Sy 94 het in 150 balle teen 3,76 lopies per beurt met 15 viere van sy kolf gevloei  voordat hy op 148/2  agter die paaltjies gevang is.

Amla het weer gekolf soos ʼn mens hom leer ken het en 14 viere geslaan in sy 153 balle voor die paaltjies.

Faf du Plessis, met ʼn waaksame 24, en Keshav Maharaj (10) sal Saterdagoggend meer lyf aan die kolfbeurt probeer gee.

Vir die volledige telkaart en ontledings, klik op die skakel 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.