Droogte en beseringsvrese dalk Indië se bondgenote

Die Kaapse droogte, en die onsekerheid oor die beseringsposisie van ʼn paar van die Proteas se spelers, kan ongewone bondgenote wees wat aan Indië die binnebaan in die eerste toets mag gee wat Vrydag op Nuweland begin.

Benewens die droogte wat die voorbereiding van die kolfblad op verskeie maniere in die wiele ry, is daar die ongerustheid by die spanbestuur dat daar drie snelboulers is wat dalk nie die vyf dae se toetskrieket sal kan deurstaan nie.

Vernon Philander (rug), Morné Morkel (sy) en Dale Steyn (skoueroperasie), van wie twee vir Kagiso Rabada moet bystaan, is die manne ter sprake nadat hulle onlangs eers van hul beserings herstel het.

Die gevolg is dat die balans van die span daar onder kan ly.

Sal Gibson kan vertrou dat enige twee van die drie wat Kagiso Rabada moet bystaan beseringsvry sal bly? Of sal een, of selfs twee, van hulle soos op die onlangse Engelse toer gebeur het, soos Philander die res van die wedstryd weens ʼn besering moet uitsit?

Daar is dus nou sprake dat al vier die snelboulers dalk glo ingespan kan word as ‘assuransie’ indien een van hulle nie kan aangaan nie. Keshav Maharaj sal ongetwyfeld as enigste draaier gekies word.

Dit beteken dat ʼn veelsydige speler, Chris Morris (ook pas terug na ʼn rugbesering), of Andile Phehlukwayo, nie sal speel nie.

Dit sal die balans van die span versteur wat die afrigter Otis Gibson aanvanklik in gedagte gehad het. Faf du Plessis sal sekerlik (kwotavereistes of te nie) in Temba Bavuma se plek speel.

Vyf spesialisboulers, die vier vinnige manne en Keshav, sal beteken dat daar net ses spesialiskolwers is en geen veelsydige speler nie.

♦  Daar is boonop die verdere onsekerheid oor die kolfblad, wat ironies genoeg mag beteken dat daar in elk geval minder vaart, wip en beweging op Nuweland sal wees as waarop gehoop is.

Nuweland het sy eie boorgat en water na vereiste kan gebruik word ter voorbereiding van die kolfblad. Die versengende hitte mag egter Woensdag en Donderdag die blad so uitdroog dat die graslagie selfs aanvanklik nie veel hulp aan die snellers sal gee nie – en te veel water die dag voor die wedstryd sal die kolfblad eerder stadig as vinniger maak.

Dus: die ‘assuransie’ teen ʼn besering van een van die snelboulers kan beteken dat ʼn volle snel-arsenaal losgelaat word op ʼn kolfblad wat hulle nie noodwendig tot hulp sal wees nie.

♦  Miskien sal Gibson tóg vir Steyn weglaat om sy eerste eersterangse wedstryd in meer as ʼn jaar op provinsiale vlak te gaan speel, en Phehlukwayo ʼn kans gee om verskeidenheid in die boulaanval te bewerkstellig – en om die kolflys te versterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rihad ·

Soek alreeds verskoning voor ons nog begin het, teen Zim was daar niks gesê nie, nou word die “beserings” aangekondig. Ek weet nie van wat ons spelers beseer is nie, maar dis beslis nie agv te veel krieket nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.