Druk in Auckland is nou op die Proteas

krieket-sa-logoʼn Moeilike kolfblad en ook uitstekende kolfwerk het Woensdag die eendagwedstryd in Hamilton gekenmerk waar die Proteas teen Nieu-Seeland moes wen om ʼn kans te hê om boaan die wêreldranglys te bly.

Op die moeilike kolfblad het Suid-Afrika eerste gekolf en gesukkel maar tog 279/8 bereik, en toe hulle moes boul, het veral Martin Guptill (180 nun) en ook Ross Taylor (66) die Proteas se boulaanval uitmekaar geskeur en met sewe paaltjies gewen. Die Swart Pette het nog vyf boulbeurte oorgehad toe die wenlopies geslaan is.

Die huidige eendagreeks van vyf wedstryde staan nou op twee-elk met die beslissende wedstryd wat Saterdag op die Edenpark-rugbyveld in Auckland gespeel word. Die neerlaag beteken Suid-Afrika sal skuif af na die tweede plek op die wêreldranglys. Hulle moes die reeks met 4-1 wen om bo die Aussies te bly.

♦  Guptill was verwoestend. Hy het weens sy tweede dyspierbesering drie weke laas aan ʼn kolf gevat en het die Proteas se boulers baie middelmatig laat lyk. Na die vroeë verlies van sy aanvangsmaat Dean Brownlie (5/1) het hy stadigaan die pas versnel nadat ook die ander gevaarkolwer tot dusver in die reeks, Kane Williamson, op 77/2 uitgehaal is.

Williamson was egter, soos Taylor later, hoofsaaklik die anker terwyl Guptill te kere gegaan het. Hy het sy 180 onoorwonne lopies in net 138 balle geslaan in ʼn beurt wat 15 viere en ʼn allemintige 11 sesse ingesluit het. Saam met Taylor het hy ‘n nuwe Nieu-Seelandse vennootskaprekord van 180 lopies teen Suid-Afrika daargestel.

Kagiso Radaba (1/41 in agt beurte) is die enigste Proteabouler wat nie deeglik deurgeloop het nie. Imran Tahir was plek-plek gevaarlik, maar onbestendig. Hy het nie minder nie as vyf sesse en ʼn vier afgestaan en tog 2/56 in sy tien beurte geneem.

Wayne Parnell (0/44 in sewe beurte), Chris Morris (0/54 in nege beurte), Dwaine Pretorius (0/55 in agt beurte)  en JP Duminy (0/26 in drie beurte) het almal deurgeloop.

♦  Suid-Afrika se kolwers het op die stadige draaiersblad gesukkel. Tim Southee en Trent Bolt is wel teen die einde vreeslik deur AB de Villiers (72 nun in 59 balle met drie viere en vier sesse), Morris  (28 in 27 balle) en Parnell (29 in 12 balle) verniel en het elk 70 lopies afgestaan en een paaltjie geneem.

Maar vroeër in die beurt het dié twee met goeie vaartverandering en heelwat snyballe die lopietempo beperk met Mitchell Santner (0/40 in tien beurte) en James Neesham (1/15 in drie beurte) wat ook die lopievloei verlangsaam het.

♦  Die Proteas het, nadat Quinton de Kock met sy eerste bal uitgehaal is toe die tuisspan met twee draaiers, Jeetan Patel en Santner, begin het, op koers gebly en het na 26 beurte 128/2 gehad.

Dit was grootliks te danke aan Amla se goeie 40 in 38 balle en Faf du Plessis (67 in 97 balle) wat die ankerbeurt gespeel het.

Toe het die Proteas egter binne 30 lopies vier paaltjies verloor met die kolftempo wat sterk afgeneem het.

In die laaste tien beurte het die Proteas egter ingeklim en 106 lopies geslaan, waarvan 72 in die laaste vyf beurte gekom  het.

Die kenners in Nieu-Seeland het gemeen die Proteas se 279/8 op die moeilike kolfblad was te veel vir die tuisspan … maar Guptill het gewys hoe ʼn verskrikking hy vroeër in die reeks kon gewees het, was dit nie vir sy twee beserings nie.

Klik die skakel vir volledige besonderhede oor die wedstryd: http://www.espncricinfo.com/new-zealand-v-south-africa-2016-17/engine/match/1020037.html

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.