Du Preez kry nasionale afrigterspos

Dillon du Preez. Foto: Twitter via RCB.

In ’n tydperk waar Krieket Suid-Afrika aangedui het dat hy voortaan slegs swart konsultante sal aanstel in ’n poging om transformasie te bespoedig, het die nasionale krieketbeheerliggaam bevestig dat Dillon du Preez as die Protea-vrouekrieketspan se hulpafrigter aangestel is.

Die voormalige Vrystaatse veelsydige speler het ’n kontrak van drie jaar met die span onderteken en hy sal saam met Hilton Moreeng (hoofafrigter) die nasionale vrouespan afrig.

Die 38-jarige het in sy speeldae amper 600 paaltjies geneem en meer as 4 500 lopies in eersterangse krieket geslaan. Hy het ook vir die Royal Challengers Bangalore in die Indiese Premierliga gespeel, terwyl hy ná sy uittrede as afrigter by die VBK Knights betrokke was.

“Dillon is ’n jong afrigter met ’n magdom ervaring en sy kennis sal beslis van hulp wees. Ek is vol vertroue dat ons afrigterskorps sal help om vrouekrieket na nuwe hoogtes te voer,” het Moreeng gesê, onder wie se bekwame toesig die Protea-vrouespan vroeër vanjaar tot die halfeindstryd van die T20-Wêreldbeker in Australië gevorder het.

Op sy beurt het Du Preez gesê dit is ’n eer om deel van die nasionale opset te wees.

“Baie dinge het agter die skerms gebeur en met die Covid-19-pandemie het dit ’n rukkie geneem voordat ek deel van die span kon word. Maar ek is uiteindelik hier en opgewonde om te begin,” het Du Preez gesê.

Moreeng se span se toere na die Wes-Indiese Eilande en Engeland is weens die wêreldwye Covid-19-pandemie afgelas.

Die Protea-vroue se bestuurspan lyk só: Hilton Moreeng (hoofafrigter), Dillon du Preez (hulpafrigter), Sedibu Mohlaba (spanbestuurder), Zane Webster (kondisioneringsafrigter), Tshegofatso Gaetsewe (spandokter) en Molebatsi Theletsane (fisioterapeut).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kiepie ·

Dillon en Hilton was jare terug saam in die Vrystaat Krieketakademie so hulle behoort ‘n goeie span te maak. Geluk Dillon!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.