Duimbesering hou Dwaine uit T20-skouspel

Dwaine Pretorius in aksie. Foto: Christiaan Kotze/AFP

Dwaine Pretorius sal die T20-Wêreldbeker in Australië misloop nadat hy sy linkerduim in die laaste mik-en-mokerkragmeting teen Indië gebreek het.

“Die aard van die besering vereis ʼn operasie en hy sal Krieket Suid-Afrika (KSA) se aangewese handchirurg raadpleeg wanneer hy terug is in Suid-Afrika,” het dr. Shuaib Manjra, KSA se mediese beampte, gesê.

Die 33-jarige Pretorius, wat al in meer as 180 T20-wedstryde gespeel het, het sy waarde vir die Proteas onderstreep toe hy met ʼn boulontleding van 3/26 teen Indië in Lucknow gespog het.

Die Suid-Afrikaners sal sy aggressiewe kolfwerk ook mis. In die onlangse reeks teen Engeland was hy gereeld as mokerman ingespan en hy slaan juis sy internasionale lopies teen ʼn blitsige treftempo van 164,15.

Met Pretorius op die krukkelys is die belowende Marco Jansen vir die eendagreeks teen Indië nadergetrek.

Hoewel daar nog nie ʼn amptelike plaasvervanger vir die komende Wêreldbeker in Australië aangekondig is nie, kan die linkshandige snelbouler ook in die binnebaan wees om die veelsydige ster se skoene vol te staan.

Temba wéér vinnig uit

Intussen het Temba Bavuma weer eens sy paaltjie vinnig verloor in die eerste eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Indië in Lucknow.

Dit kom nadat reënweer en ʼn nat buiteveld die wedstryd ná 40 boulbeurte per span kortgeknip het.

Die Protea-kaptein het twee grenshoue geslaan voordat Shardul Thakur hom vir agt lopies skoongeboul het.

Bavuma kon nog nie in een van sy vier beurte op die toer meer as tien lopies aanteken nie en hy handhaaf tans ʼn eina-gemiddeld van 2,75.

Suid Afrika het 115/4 op die telbord nadat Quinton de Kock (48), Janneman Malan (22) en Aiden Markram (0) ook hul paaltjies verloor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.