Duminy en Elgar kolf die Aussies moedeloos

JP Duminy in aksie. Foto: AP Photo/Rob Griffith

JP Duminy in aksie. Foto: AP Photo/Rob Griffith

Ná hulle treurige kolfwerk Donderdag op die eerste dag teen Australië op die Waca in Perth, het die Proteas se kolwers Saterdag in die eerste toets vergoed en hul goeie boulwerk van Vrydag met skitterende kolfwerk opgevolg.

Teen uitskeityd Saterdag was Suid-Afrika op 390/6 in sy tweede kolfbeurt reeds 388 lopies voor.

Dit was die tweede opeenvolgende dag wat aan Suid-Afrika behoort het. Die kolfhelde Dean Elgar en JP Duminy het Saterdagoggend met die telling op 104/2 hulle beurte voortgesit en albei het hulle honderdtalle bereik en ʼn allemintige vennootskap van 250 in 74 boulbeurte daargestel.

Toe Duminy uit is, was die telling 295/3.

Duminy was die man wat sy lopies vinnig aangeteken het en het 225 balle aan sy 141 lopies gekolf teen feitlik 3,8 lopies per boulbeurt. Sy dekveld-dryfhoue was van die hoogste gehalte en hy het 20 viere en ʼn ses in sy beurt geslaan.

JP Duminy (links) en  Dean Elgar. Foto: AP Photo/Rob Griffith

JP Duminy (links) en Dean Elgar. Foto: AP Photo/Rob Griffith

Dit was, ongeag die telling, een van sy beste toetsbeurte nog.

Elgar, wat die beurt geopen het en twee van Suid-Afrika se paaltjies sien val het voordat Duminy op 45/2 by hom aangesluit het, was meer as sewe uur lank voor die paaltjies en het 316 balle aan sy 127 lopies gekolf.

Hy was die anker en het Duminy goed aangevul met sy konsentrasie wat ondanks die geweldige hitte van 37 grade nooit gewyk het nie.

Die beurt was vir hom ʼn persoonlike triomf nadat hy vier jaar gelede in sy debuuttoets op die Waca twee keer vir nul uitgehaal is.

Toe Elgar met die telling op 324/4 uit is, was Suid-Afrika reeds op pad na ʼn stewige totaal wat Sondag aan die kaptein Faf du Plessis die uitdaging sal laat om op die regte tyd te verklaar indien die span nie uitgeboul word nie.

Temba Bavuma (8) en Du Plessis (32) is onderskeidelik op 346/5 en 352/7 uitgehaal voordat Vernon Philander (23 nun) met hier en daar ʼn stukkie geluk saam met Quinton de Kock (16 nun) die telling tot 390/6 gevoer het.

Dit is onwaarskynlik dat die beseerde Dale Steyn sal kan kolf en hy sal beslis nie boul nie. Dit plaas die Proteaboulers onder groot druk met net drie erkende boulers van wie een ʼn onervare draaier is.

Suid-Afrika is nogtans in ʼn goeie posisie om die toets te wen. Die kolfblad kan ʼn groot rol speel. Daar is reeds duidelike krake op die blad wat besig is om groter te word.

Dit kan aanvanklik seker sake ook vir die Proteakolwers bemoeilik wat die hoogste telling moontlik vir die Aussies wil stel om te jaag – maar die Aussies sal dit dan op ʼn nóg swakker blad moet regkry.

Suid-Afrika het met sy 414/4 in 2012 die hoogste wentelling nóg op die Waca behaal. Du Plessis sal egter heelwat meer wil hê.

Opgesomde telkaart:

Suid-Afrika (tweede beurt) 390/6 (Kolwers: Dean Elgar 127, JP Duminy 141, Vernon Philander 23*, Quinton de Kock 16*, Faf du Plessis 32, Temba Bavuma 8, Stephen Cook 12, Hashim Amla 1. Boulers: Mitchell Starc 1/99, Josh Hazlewood 2/97, Peter Siddle 2/47, Mitchell Marsh 1/52).

Australië (eerste beurt): 244 (Kolwers: David Warner 97, Shaun Marsh 63, Adam Voges 27, Peter Nevill 23. Boulers: Vernon Philander 4/56, Keshav Maharaj 3/56, Kagiso Radaba 2/68, Dale Steyn 1/51).

Suid-Afrika (eerste beurt): 242 (Kolwers: Quinton de Kock 84, Temba Bavuma 51, Faf du Plessis 37. Boulers: Mitchell Starc 4/71, Josh Hazlewood 3/70).

Suid-Afrika se voorsprong is 388 lopies met nog vier paaltjies staande en twee dae speeltyd wat oorbly. (Dale Steyn sal egter net kolf as dit noodsaaklik is.)

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marianne ·

Well done boytjies!!!!!!
Ek wens die krieket kan op SABC 3 uitgesaai word. Al is dit geredigeerde weergawes 05:00am.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.