Een van AB se allerbeste beurte breek vegtende Bangladesj se moed

Andile Phehlukwayo, wat 4/40 geneem het, word deur sy Protea-spanmaats geluk gewens. (Foto: Facebook CSA)

Die kolfblad was moeiliker en die boulwerk stukke beter as in Kimberley, en AB de Villiers op sy heel allerbeste.

Suid-Afrika het Woensdag die tweede eendagwedstryd met 104 lopies gewen nadat hulle 353/6 aangeteken en toe die Bangladesjies vir 249 op Bolandpark in die Paarl uitgeboul het.

Die kolfblad het Woensdag die meer gedissiplineerde boulers van Bangladesj aanvanklik gehelp en die Proteas het maar gesukkel om die grens te bereik.

Hashim Amla (85 in 92 balle, vier viere) en Quinton de Kock (46, 61 balle, een vier) kon nie weer so te kere gaan soos in Sondag se eerste eendaagse wedstryd nie.

Nie dat hulle stadig gekolf het nie. Hulle hardloopwerk was goed en hulle het teen 5.1 lopies per boulbeurt gekolf ondanks die gebrek aan ʼn grenshou vir feitlik 50 minute.

Maar toe twee paaltjies van die Proteas skielik gekantel het, het De Villiers oorgeneem en sy spanmaats gewys hoe om ʼn bestendige boulaanval te verinneweer.

Die telling toe De Kock uit is, was 90/1. Drie balle later was Faf du Plessis beenvoor vir nul en was die telling 90/2. En toe word De Villiers ook so byna met sy telling op 1 uitgehardloop. En daar was in dieselfde boulbeurt `n amperse vangkans.

Dit is toe dat die Proteas se ietwat moeilike dag omgekeer is.

De Villiers het hom by Amla gevoeg toe dié 38 lopies gehad het. Toe hulle 136 lopies later op 226/3 later geskei is, was Amla (85) se bydrae 47.

De Villiers het toe reeds 86 in net 60 balle gehad. En hy was nog lank nie klaar nie.

Uiteindelik, met sy telling op 176 lopies in 104 balle, met 15 viere en sewe sesse (102 lopies in grenshoue) is de Villiers op wye diepby driekwart na die grens toe uitgevang.

Hier is so tikseltjie statistiek oor die beurt en De Villiers se eendagprestasies:

  • Sy 50-tal is in 34 balle aangeteken (7 viere, een ses)
  • Sy honderdtal het in 68 balle gekom (10 viere, een ses)
  • Sy 150-tal het net 25 balle later gekom (13 viere, vyf sesse).
  • Dit was de Villiers se eerste honderdtal teen Bangladesj. Daarmee het hy slegs die sewende kolwer geword wat ʼn eendaagse honderdtal teen die voorste krieketlande (Ierland en Afghanistan uitgesluit) kon aanteken.
  • Hy het nou 25 honderdtalle in eendaagse krieket geslaan, waar van ses teen vinniger as ʼn lopie per bal aangeteken is.
  • Hy is nou op 201 een van net vier spelers wat al meer as 200 sesse in eendaagse krieket geslaan het.

JP Duminy (uiteindelik uit vir 30) het net 27 van die vennootskap van 117 lopies met De Villiers aangeteken.

Oor die toerspan kan ʼn mens sê dat hulle kolwers moedig probeer het en in ʼn stadium 161/2 gehad het. Maar soos Sondag in Kimberley was dit teen ʼn raps meer as vyf lopies per boulbeurt te stadig.

Toe drie vinnige paaltjies val en hulle op 219/6 staan, was die skrif aan die muur.

Imrul Keyes (68 in 77 balle), Mushfiqur Rahim (60 in 70 balle) en Mahmudulla (36 in 34 balle) was hulle belangrikste bydraers met die kolf.

Andile Phehlukwayo het 4/40 in sy tien beurte geneem, Dane Paterson (1/73) het weer te veel losballe tussen sy goeies geboul en Imran Tahir (3/50) en Dwayne Pretorius (2/48) het die ander paaltjies geneem.

Die derde en laaste eendagwedstryd in die reeks word Sondag op Buffalopark in Oos-Londen gespeel voordat die T20-wedstdye aan die beurt kom.

Vir volledige statistiek en die telkaart klik op die skakel http://www.espncricinfo.com/series/10904/scorecard/1075505/South-Africa-vs-Bangladesh-2nd-ODI-bangladesh-in-south-africa-odi-series

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.