Eendagreeks: AB praat en die Proteas luister

Kagiso Rabada, speler van die wedstryd. (Foto deccanchronicle.com)

Kagiso Rabada, speler van die wedstryd. (Foto deccanchronicle.com)

As AB de Villiers praat, dan luister jy. Dit was duidelik aan die manier waarop die Proteas Saterdag in die beslissende wedstryd in die eendagreeks in Auckland gereageer het.

Die Proteas het daarmee verhoed dat Nieu-Seeland hulle negende agtereenvolgende tuisreeks wen.

Suid-Afrika se eendagkaptein het voor hierdie wedstryd hard met sy manne gepraat na Woensdag se swak vertoning in die vierde wedstryd in die reeks van vyf teen Nieu-Seeland.

Saterdag het die Proteas toe net 150 lopies op Edenpark benodig om die vyfde eendagwedstryd en daarmee die reeks te beklink. Die Proteas het die telling in die 42ste boulbeurt met die verlies van vier paaltjies bereik.

Faf du Plessis het ʼn ankerbeurt gespeel en die wenlopies met ʼn grenshou in sy onoorwonne 51 geslaan en David Miller het 45 nun met ses viere en twee sesse aangeteken.

AB de Villiers is op 23 deur ʼn goeie wipbal van James Neesham geflous. Quinton de Kock (6), Hashim Amla (8) en JP Duminy (3) en het nie een dubbelsyfers behaal nie.

Die Eden Park-kolfblad in die middel van Nieu-Seeland se grootste rugbyveld maak dit weens sy kort grense ʼn ongemaklike veld om op te speel maar die Proteas het goed aangepas met die ondervinding wat hulle senior spelers daar in die halfeind van die Wêreldbekertoernooi opgedoen het.

♦  Die groot helde van die oorwinning was die Proteas se boulers nadat De Villiers besluit het om die Swart Pette te laat kolf.

Martin Guptill, die groot held van die vierde eendagwedstryd met sy onoorwonne 180, is in die vyfde boulbeurt vir net vier lopies deur Kagiso Radaba uitgehaal (17/1). Toe is die Kiwi’s se kaptein Kane Williamson skitterend deur de Villiers uitgehardloop (42/2) en op dieselfde telling moes Dean Brownlie, die anker tot in daardie stadium, stap nadat Andile Phehlukwayo hom beenvoor betrap het.

Phehlukwayo het op 51 weer so gemaak toe Ross Taylor moes terugstap en Luke Ronchi is agter die penne van Chris Morris af gevang (82/5).

Op 87/6, toe Neesham (24) met ʼn opslagbal van Radaba uitgevang is, het sake vir die tuisspan sleg gelyk, maar Mitchell Santner (24) en Colin de Grandhomme (32) het die telling ʼn bietjie meer aansien gegee.

Imran Tahir het weliswaar eers hier teen die einde van sy toegelate tien beurte twee paaltjies geneem, maar het toe reeds die kolwers met sy draai- en goëlballe onder druk geplaas. Hy het 2/14 in sy 10 beurte geneem.

Rabada, 2/25 in 7.1 beurte, was speler van die wedstryd en is benewens Tahir goed bygestaan deur Phehlukwayo  (2/35 in sewe beurte), Morris (1/34 in nege beurte) en ʼn bestendige Dwain Pretorius nadat hy aanvanklik kwaai gestraf is (0/36 in agt beurte).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.