Eendagreeks: die fokus is reeds op die toetsreeks

Argieffoto

Argieffoto

Suid-Afrika en Australië speel Vrydag op Centurion in die eerste van vyf eendagwedstryde voordat hulle oor net meer as ʼn maand drie toetswedstryde in Australië sal speel.

Dit bied aan albei spanne die kans om die kat deeglik uit die boom te kyk oor watter sterk- en swakpunte hulle by hulle teenstanders kan bespeur. ʼn Hele paar spelers in albei spanne sal na verwagting in die toetsreeks speel.

Albei spanne is moontlik nie op volle sterkte nie. Die Proteas is nie die enigste span met beserings nie. Die Aussie-keurders moes inderwaarheid gaan soek na ʼn snelboulaanval aangesien Mitchell Starc en Josh Hazlewood uitsit vir die toer na Suid-Afrika.

Die drie Aussie-nuwelinge wat hulle internasionale krieketloopbane moontlik Vrydag op Centurion sal begin, is Daniel Worrall, Joe Mennie en Chris Tremain. Hulle het al drie in die Australiese krieketreekse met goeie spel beïndruk.

Darren Lehmann, die afrigter, meen daar is die kans dat iemand tydens hierdie reeks hom as ʼn nuwe superster kan onderskei.

Die Australiese groep vir die eendagreeks –

Steven Smith (kapt), David Warner, George Bailey, Scott Boland, James Faulkner, Aaron Finch, John Hastings, Travis Head, Mitchell Marsh, Shaun Marsh, Joe Mennie, Chris Tremain, Matthew Wade (pw), Daniel Worrall, Adam Zampa.

♦  ʼn Effense aanpassing van krieket se verwysingstegnologie word die eerste keer deur die twee spanne in ʼn verwagte taai wedstryd ervaar.

Hulle het albei nog net die afgelope week teen Ierland volgens die gewysigde reël gespeel.

Die aanpassing kan tot gevolg hê dat daar meer beenvoor-verwysings in die reeks sal wees en dat dit hopelik meer sekerheid oor beslissings sal bring.

Die nuwe reël wat verlede week ingestel is, bepaal dat net die helfte van die bal enige deel van die paaltjie hoef te tref om ʼn nie-uit-nie beslissing deur die derde skeidsregter te laat verander.

Tot dusver moes helfte van die bal die binneste helfte van die paaltjie tref om ʼn beslissing na uit te verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.