Eendeweer kan tweede kriekettoets ontwrig

Argieffoto

Argieffoto

Suid-Afrika se momentum ná die span se oorwinning in Perth mag van Saterdag af in die tweede kriekettoets teen Australië in Hobart, Tasmanië, deur reënweer gestuit word.

Die voorspelling is dat reën gewis die eerste twee dae se spel sal ontwrig en moontlik sal dit voortduur.

Australië, en veral die kaptein, Steve Smith, het ʼn toetsoorwinning broodnodig. Die span is nie net 0-1 in die reeks van drie toetse agter nie, maar dit gaan boonop die afgelope tyd glad nie goed met Australiese krieket nie.

Ná die Proteas se uitstekende oorwinning in Perth het hulle rede om die Hobart-toets met selfvertroue te benader, maar dit sal wys wees om hulle kolfvertoning van die eerste beurt op die Waca te onthou.

Die eerste vier paaltjies het toe vir 32 lopies getuimel voordat uitstekende boulwerk en toe ʼn goeie tweede kolfbeurt Suid-Afrika tot oorwinning gevoer het.

♦ Die Proteas het nog nie tevore ʼn toets in Hobart gespeel nie. Dit is gewoonlik ʼn kolwersblad, maar met die baie reën wat verwag word en die betrokke lug sal die snelboulers dalk ʼn bietjie swaai kan kry.

In die afgelope vyf toetse wat hier gespeel is, is die span wat eerste gekolf het net een keer uitgeboul. Die ander vier keer, elke keer Australië, was die eerstebeurt-tellings 542/5: 519/8; 450/5 en 583/4.

Die feit dat die Aussies se bestendige Peter Siddle beseer is, is ʼn groot slag vir die tuisspan,  want hy is hulle beste snelbouler nóg op Hobart se Bellerive Ovaal.

Australië se aanvangskolwer Shaun Marsh is ook beseer en hulle sal hom moet vervang.  Die verwagting is dat Joe Burns saam met Dave Warner die beurt sal begin en dat die nuweling Joe Mennie  by Siddle sal oorneem.

Steve Smith het gesê dat die verwagte reën die snelboulers meer ruskans sal gee en die Australiese keurders oorweeg glo om nog ʼn spesialiskolwer in die plek van ʼn veelsydige speler in te span.

♦ Die Proteas se keurders moet nog besluit wie hulle in die plek van die beseerde Dale Steyn sal kies – Morné Morkel of Kyle Abbot. Of dalk kies hulle albei en laat die draaier Keshav Maharaj uit. Die finale spanne word soos gewoonlik eers die oggend van die wedstryd aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.