Eerste kolfbeurt spook nou éérs by die Proteas

Selfs sonder Moeen Ali se aanslag om die ietwat wankelrige tweede kolfbeurt van Engeland in die vierde kriekettoets op Old Trafford te red, sou dit baie moeilik vir die Proteas wees om die reeks te deel.

Reën kan Suid-Afrika moontlik Maandag en Dinsdag nog help nadat dit Sondagmiddag ʼn einde aan die dag se spel gebring het. Maar ʼn onbesliste uitslag sal nie die reeks kan red met Engeland wat 2-1 voor is nie.

Met uitskeityd Sondagaand het Engeland 224/8 gehad – ʼn voorsprong van 360 lopies met nog twee paaltjies nadat die Proteas in die oggend net ses lopies hy hulle oornagtelling kon voeg.

Hulle is vir ʼn powere 226 uitgehaal, ʼn agterstand van 136 lopies op die eerste beurt, voordat hulle Engeland ietwat benoud laat walgooi het.

♦  Die kolfblad het die bal Sondag ongelyk vir die vinniger boulers laat deurkom en Keshav Maharaj het gewys hoe gevaarlik draaiers kan wees wat die uitgetrapte kolle kan raak boul.

Alastair Cook, Keaton Jennings, Tom Westley en Dawid Malan was almal op 72 ná 29.3 boulbeurte terug in die pawiljoen.

Duanne Olivier het voortgebou op sy veel verbeterde vertonings van die eerste beurt gemeet aan sy gesukkel in die tweede toets, en 3/38 platgetrek. Morné Morkel se 2/39 nadat hy Cook en Westley wéér met ʼn goeie skof laat stap het, het saam met Kagiso die grondslag van die terugvegpoging gelê.

Rabada, wat in hierdie toets oplaas gewys het dat sy vroeëre gesukkel in die reeks net tydelik was, het soos in die eerste beurt weer goed geboul en 2/37 geneem.

Daardie agterstand van 136 lopies op die eerste beurt ná die Proteas se kolf-treurmare, veroorsaak ondanks die boulers se goeie vertoning Sondag egter die verskil. Selfs toe Engeland Sondag 153/7 gehad het, sou dit op die kolfblad moeilik wees om te wen.

Ali het egter toe alle twyfel uit die weg geruim oor wie die reeks sou wen toe hy onder die boulers ingeklim en 67 in 59 balle met agt viere en drie sesse bygevoeg het.

Die enigste ander Engelse kolwers wat meer as 20 lopies kon aanteken was die kaptein Joe Root (49) en Ben Stokes (23).

Om die volledige telkaart en statistiek se sien, klik op die volgende skakel: http://www.espncricinfo.com/series/10718/scorecard/1031443/England-vs-South-Africa-4th-Test-Basil-DOliveira-Trophy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.