Eerste toets: Indië vermorsel Australië

Argieffoto van Indië se krieketkaptein Rohit Sharma (Foto: Punit Paranjpe/AFP)

Eerste hou op die kennebak, vat so vir nog ʼn paar opstoppers wat in drie ander toetse wag!

Dit was die ondubbelsinnige boodskap wat Indië se krieketspan Saterdag in Nagpur in die eerste van vier toetswedstryde teen Australië uitgestippel het nadat die tuisspan met ʼn beurt en 132 lopies gewen het.

Die Aussies is in ʼn lokval gelei, want hulle was onvoorbereid op ʼn draaiersvriendelike blad, hulle het straks verkeerde span gekies met te veel linkshandige kolwers, maar die grootste rede was dat byna al hul kolwers onbeholpe teen giftige draaiboulwerk was.

Australië, wat 177 lopies in sy eerste beurt aangeteken het, het boedel in sy tweede beurt oorgegee en kon net 91 lopies aanteken.

Indië, wat 400 lopies op dieselfde blad in sy eerste beurt aangeteken het, het die toets verspot maklik gewen.

Die groot vraag is hoe dit moontlik vir Rohit Sharma (120), Axar Patel (84) en Ravendra Jadeja (70) was om die Aussies se boulwerk te tem?

Voeg daarby dat die 22-jarige nuweling Todd Murphy 7/124 in sy eerste toets vir Australië platgetrek het.

Dit was die eerste keer in sy eersterangse loopbaan dat hy vyf paaltjies kon plattrek.

Waar was Nathan Lyon?

In die Aussies se rampspoedige tweede beurt het Ravichandran Ashwin (5/37) en Jadeja (2/34) die Aussies gemesmeraais.

Ashwin het met 8/79 in die toets geëindig en Jadeja met 7/81.

Afgesien van Marnus Labuschagne (49), Steve Smith (37) en Alex Carey (36) in die eerste beurt het nie een van die ander kolwers ʼn benul gehad om ʼn Ashwin en Jadeda die hoof te bied nie.

Maar die Aussies geheue is dalk kort, want slegs ʼn paar maande gelede in Brisbane het hulle ʼn groen mamba teen Suid-Afrika voorberei wat die eerste toets binne twee dae aan hulle besorg het.

Tuisveldvoordeel!

Waar was die Aussies se veggees teen Indië?

Die antwoord is eintlik heel eenvoudig: die Aussies is soos lammers na die slagpale gelei, want slegs ʼn paar dae gelede het hul spelers nog almal in die Big Bash-T20-liga gespeel waar feitlik elke bal net gemoker is.

Daarenteen het die Indiërs op draaiersvriendelike blaaie meerdagkrieket gespeel, in die nette geoefen en geoefen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.