Eindstryd-glorie wink vir Protea-vroue

Die Proteas vier ’n paaltjie. Foto: Twitter.

Met die onweerswolke wat bokant die Sydney-krieketterrein saampak, glo Dané van Niekerk dat haar Protea-vrouekrieketspan die nodige silwerrandjie aan die Cumulonimbus kan verskaf.

“Ons het reeds van die begin gesê dat hierdie Suid-Afrika se beste kans nóg is om ’n Wêreldbeker te wen,” het die Protea-kaptein op die vooraand van vandag se halfeindstrydkragmeting teen Australië gesê.

“Dit is die sterkste span wat ons in ’n baie lang tyd gekies het, maar in ’n halfeindstryd kan enigiets gebeur. Ons moet van die rekords vergeet; dit maak in elk geval nie saak wanneer die temperatuur van die drukkoker styg nie. Hopelik kan ons hulle vir eens ore aansit.”

Die Proteas was tot dusver so te sê onstuitbaar in die toernooi. Mignon du Preez se finaleboulbeurt-heldedade het Engeland gesink, terwyl Lizelle Lee en Laura Wolvaardt se kolfsege een te veel vir Thailand en Pakistan was.

Hul laaste groepwedstryd teen die Wes-Indiese Eilande is deur reënweer in die wiele gery, maar hulle het steeds eerste in hul groep geëindig. En selfs al lag die weer nóg ’n keer die laaste in vandag se halfeindstryd, sal die Proteas steeds na die eindstryd teen Indië deurdring omdat hulle die beste span in hul groep was.

“Die Aussie-stryd gaan waarskynlik een van ons taaiste kragmetings ooit wees. Hulle was al in so baie halfeind- en eindstryde. Ons is letterlik babas in vergelyking met hul ervaring van sulke wedstryde.”

  • Spel het sopas begin en Australië kolf eerste. Die jongste beskikbare telling is 69/3 ná 9.3 boulbeurte.
  • Die Protea-span: Lizelle Lee, Dané van Niekerk, Nadine de Klerk, Mignon du Preez, Laura Wolvaardt, Suné Luus, Chloe Tryon, Trisha Chetty, Shabnim Ismail, Ayabonga Khaka en Nonkululeko Mlaba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gato ·

Gee hulle gas. Die mans Proteas het sowaar ‘n bietjie nuwe lewe gekry so enige iets is moontlik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.