Eindstryd wink vir Mumbai

Die Mumbai Indians het die Lucknow Super Giants op ’n drafstap geklop. (Foto: Twitter/IPL)

Slegs twee wedstryde staan tussen Mark Boucher en ʼn moontlike IPL-titel in sy eerste seisoen as die hoofafrigter van die Mumbai Indians.

Mumbai het gister die Lucknow Super Giants met 81 lopies in ʼn uitklopwedstryd in Chennai geklop en krieketliefhebbers is vol lof vir die wenspan se aggressiewe benadering tot die toernooi.

Hulle het al ʼn paar keer teikens van meer as 200 lopies suksesvol gejaag terwyl spelers soos Cameron Green en Suryakumar Yadav met hul kolfwerk uitgeblink het.

Dié twee het juis weer ʼn vinnige vennootskap van 66 lopies om die derde paaltjie teen die Super Giants geniet, maar Mumbai se groot held is ongetwyfeld Akash Madhwal.

Die regshandige medium-/vinnige snelbouler spog met ʼn ongelooflike boulontleding van 5/5 en hy het onder meer van gevaarmanne soos Nicholas Pooran en Prerak Mankad ontslae geraak voordat hy ook onder die Super Giants se stertkantkolwers amok gemaak het.

Madhwal het saam met Chris Jordan en Piyush Chawla gesorg dat Lucknow vir slegs 101 lopies uitgeboender is en hy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Mark Boucher is die afrigter van die Mumbai Indians. (Foto: Greg Wood/AFP.)

Boucher, wat 23 internasionale T20-wedstryde saam met die Proteas gewen het, is in September verlede jaar as Mumbai se hoofafrigter aangestel.

“Ek sien uit na die uitdaging en het respek vir die span en sy ondersteuners se begeerte om wedstryde te wen. Ek is opgewonde om waarde tot hierdie dinamiese groep te voeg,” het die voormalige Protea-paaltjiewagter destyds gesê.

Mumbai meet môre teen die Gujarat Titans kragte vir ʼn plek in die eindstryd van die toernooi. Die Chennai Super Kings het reeds vir die finale kragmeting gekwalifiseer.

  • Opsomming van telkaart:

Mumbai Indians 182/8 in 20 boulbeurte: Cameron Green 41, Suryakumar Yadav 33 en Naveen-ul-Haq 4/38.

Lucknow Super Giants 101/10 in 16,3 boulbeurte: Marcus Stoinis 40 en Akash Madhwal 5/5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.