Volgens Heinrich Klaasen was die warm en bedompige toestande in Mumbai gelykstaande daaraan om in ʼn sauna te kolf.
Die 32-jarige Suid-Afrikaner het egter sy man in die uiterste weersomstandighede gestaan met sy briljante Wêreldbeker-honderdtal teen Engeland.
In ʼn naweek waar Suid-Afrika vir Engeland op die krieket– en rugbyveld oorheers het, was Klaasen se blitsige 109 lopies die perfekte aanloop tot die uiteindelike feesvieringe.
Ondanks die feit dat hy moeg en sopnat gesweet was, het hy steeds die een grenshou ná die ander gemoker om saam met die behendige Marco Jansen toe te sien dat die Proteas 399/5 in hul toegelate 50 boulbeurte kon aanteken.
Dit is die hoogste eendagkriekettelling nóg teen Engeland.
“Ek moes baie diep delf; ek het niks meer energie oorgehad nie,” het Klaasen gesê.
“Marco het uitstekend gespeel. Hy het vir my gesê dat ek nie van die veld af mag stap voordat ek ʼn honderdtal aangeteken het nie.”
Die twee kolwers het saam 151 lopies om die sesde paaltjie aangeteken en Jansen het self nege grenshoue in sy onoorwonne blitsbeurt van 75 lopies gemoker.
“Dit was soos om knaend warm lug in te asem. Elke enkellopie wat jy probeer hardloop, het net meer energie getap en op die ou einde wou jou liggaam net nie meer lekker saamwerk nie. Tog speel ʼn mens vir jou land en ek het my hele lewe hiervoor gewerk.”
Klaasen is tans een van die gevaarlikste witbalkrieketkolwers op die internasionale verhoog.
Hy het vanjaar reeds 725 lopies teen ʼn gemiddeld van 55,74 geslaan met ʼn hoogste telling van 174 lopies teen Australië op SuperSportpark.
Sy kolfvernuf teen draaiboulwerk maak van hom ʼn gedugte teenstander op Indiese kolfblaaie en die Proteas steun swaar op hom én spelers soos Jansen en David Miller om hul beurt met die nodige woema af te sluit.
Die Proteas se volgende Wêreldbeker-wedstryd is Dinsdag teen Bangladesj.
Ek het die krieket wedstryd gekyk. Dit was baie warm en die spelers van beide spanne het baie gesukkel met of spierkrampe of dorsheid en redelike hitte uitputting. Maar, ten spyte van, het SA baie goed gespeel. Welgedaan Proteas!!!