Elgar en Amla vryf verdere sout in Bangladesj-wonde

Hashim Amla – slaan sy 27ste honderdtal (Argieffoto: AP Photo/Rick Rycroft)

Die Proteas het Vrydag, miskien met die moontlikheid van reën vorentoe in die wedstryd, met teetyd op die tweede dag op Senwespark teen Bangladesj reeds verklaar en in die oorblywende 34 boulbeurte drie paaltjies van die besoekers geneem.

Met net twee paaltjies van die Proteas wat tot teetyd geval het en die beurtverklaring wat op 496/3 gekom het, was die algemene verwagting dat die besoekers deur ʼn veel beter boulaanval as hul eie gestoomroller sou word.

Maar watwou. Twee vroeë paaltjies, een elk aan Kagiso Rabada en Morné Morkel,  het die besoekers nie afgeskrik nie. Aangehelp deur twee verbroude vangkanse deur Dean Elgar het veral Mushfiqur Rahim (44 in 57 balle) onder die Proteas se boulers ingeklim en in ʼn stadium het Bangladesj teen feitlik 4,5 lopies per boulbeurt gekolf.

Teen uitskeityd het Bangladesj 127/3  op die telbord gehad, maar daar wag nog ʼn lang pad op hulle ná amper twee lang dae in die veld.

Elgar het nadat hy die hele eerste dag gekolf het, 199 lopies aangeteken voordat hy sy paaltjie ná 388 balle en meer as nege uur voor die penne met ʼn flou hou weggesmyt het. Hy het 15 viere en drie sesse geslaan.

Hy het, soos Donderdagmiddag, rustig sonder klaarblyklike haas voortgekolf tot hy ʼn borand by ʼn lui hou bygekry en die bal in die lug na halfby gespeel het.

Hashim Amla, wat Donderdag net voor teetyd by hom aangesluit het toe Aiden Markram op 97 uitgehardloop is, het heelwat vinniger gekolf op ʼn mak dog stadige kolfblad wat houespel bemoeilik het.

Amla het op sy nimlike manier voortgegaan en sy 27ste honderdtal aangeteken. Dit was aanskoulik, foutvry en hy was in totale beheer totdat hy op 137 (200 balle, 17 viere en een ses) ʼn wye bal luglangs na punt gedryf het.

Toe was dit Bavuma, wat eindelik op 31 nun was toe die beurt verklaar is, wat saam met Elgar gekolf het en uiteindelik vir Faf du Plessis (26 nun) as kolfmaat gehad het.

Allermins ʼn opwindende dag, maar goeie boulwerk deur Rabada en Morkel, wat egter effens aan die duur kant was, en Keshav Maharaj wat die derde paaltjie geneem het, het die dag verder interessant gemaak.

Daar moet egter effense kommer wees oor Duanne Olivier se boulwerk. Sy onvermoë om sy lyn en lengte te vind, nadat hy in die derde toets teen Engeland gelyk het of hy sy toetsvoete gevind het, gaan op die lange duur teen die duidelik talentvolle jong bouler tel en sy geleenthede op toetsvlak beperk.

Vir die volledige telkaart en statistieke, klik op die volgende skakel: http://www.espncricinfo.com/series/10904/scorecard/1075502/South-Africa-vs-Bangladesh-1st-Test-bangladesh-in-south-africa-test-series

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.