Elgar en Bavuma byt vas, maar Proteas se reddingsbult lyk te steil

Dean Elgar. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Die reën het toe nie sy ding gedoen nie, en die toporde van die Proteas ook nie toe hulle Sondagmiddag op die Oval met hul poging begin het om die derde toets teen Engeland te red.

Die onmoontlike teiken van 492 wat deur Engeland gestel is ná hulle groot eerstebeurt-voorsprong en hul tweede beurt wat op 313/8 verklaar is, het wen nie ʼn opsie gemaak nie.

Dit was bloot ʼn kwessie of die Proteas die sowat 135 boulbeurte Sondagmiddag en Maandag sou kon uithou. Maar op 117/4, met nog 375 wat benodig word, was dit met uitskeityd ʼn onwaarskynlikheid.

Sake het uit die staanspoor in die Proteas se kolfbeurt skeefgeloop toe Heino Kuhn (11) vir die sesde keer in sy ses toetsbeurte nie die mas opgekom het nie.

Toe Hashim Amla (5) die tweede keer in twee dae misluk op dieselfde veld waar hy in 2012 sy SA rekord 311 aangeteken en Suid-Afrika die enigste keer in 12 toetse op die veld gewen het, was die reddingshoop net ʼn vae moontlikheid.

Quinton de Kock (5) het gevolg, en Faf du Plessis is met sy eerste bal beenvoor betrap.

Dit was een van daardie skaars gevalle waar die kolwer uitgegee is hoewel hy nie tussen die twee stelle paaltjies getref is nie omdat hy geen hou gespeel het nie.

Op 52/4 was die Proteas ʼn rapsie beter daaraan toe as hul 61/7 in die eerste beurt, maar die hoop vir vasbyt vir twee dae was sterk aan die vervaag.

Dean Elgar (72) en Temba Bavuma (16) was met uitskeityd ná hul vasbyt-vennootskap van 65 in 21 boulbeurte nog daar om te veg.

Die Engelse kaptein Joe Root het egter die voordeel dat daar soveel lopies is om mee te speel dat hy die hele tyd kan aanval.

Daar is, so word voorspel, geen kans hoegenaamd dat reën die Proteas sal kan red nie.

♦  Keaton Jennings (48) het sy toetsloopbaan met sy toewyding gered, Tom Westley het in sy eerste toets sy eerste vyftigtal behaal, en Root en Jonny Bairstow het hom dit nagedoen.

Die Proteas se boulers het hulle redelik van hul taak gekwyt. Kagiso Rabada het met meer vuur as tot dusver geboul, Morné Morkel was knaend en Keshav Maharaj het met sy 3/30 die beste gevaar. Chris Morris het wel 2/70 geneem maar het 6,36 lopies per beurt afgestaan.

Vernon Philander was terug ná sy maagongesteldheid wat op die eerste dag begin pla het, maar sy boulwerk was nie wat tot dusver van hom in die reeks gesien is nie.

Die volledige telkaart en statistieke kan gesien word op die skakel http://www.espncricinfo.com/series/10718/scorecard/1031441/England-vs-South-Africa-3rd-Test-Basil-DOliveira-Trophy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.