Elgar in sy skik met puik Proteas

Die Proteas het nóg ’n toets op Lord’s gewen. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Engeland se herlewing op die krieketveld het met ’n harde slag terug aarde toe gekom toe die Proteas die eerste toets op Lord’s met ’n beurt en 12 lopies gewen het.

Die Suid-Afrikaners het minder as 172 boulbeurte nodig gehad om die wedstryd te wen, terwyl hulle ’n baie opwindende snelboul-battery in Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé en Marco Jansen ontdek het.

Rabada (5/52 en 2/27) is welverdiend as speler van die wedstryd aangewys, terwyl Nortjé (3/63 en 3/47) die stormram was wat gereeld gate in Engeland se verdediging geslaan het.

Dit was die Proteas se vyfde oorwinning in hul laaste sewe toetse op Lord’s.

“Hierdie is ’n spesiale groep spelers wat dekselse goeie krieket kan speel wanneer hulle op hul beste is,” het ’n trotse Dean Elgar gesê.

Die Proteas se toetskaptein het juis in aanloop tot die wedstryd gesê dat hy nie van plan is om tweede viool teen die Engelse te speel nie. Hy is daar om toetse te wen.

Benewens sy hardnekkige kolfwerk het hy ook die boulers doeltreffend bestuur – dit was slim om vir Keshav Maharaj so vroeg in Engeland se tweede kolfbeurt te laat boul.

Kommentators en kolwers se wenkbroue het gelig toe die Protea-draaier gereed gemaak het om sy eerste aflewering af te stuur, maar hy het binne ’n japtrap van Zak Crawley en Ollie Pope ontslae geraak.

In Elgar het die Proteas beslis ’n kaptein wat op sy voete kan dink.

Tog het die gemak waarmee Suid-Afrika die wedstryd gewen het selfs vir hom onkant betrap.

“Toe ek Vrydagoggend wakker word, het ek nooit gedink dat ek vóór 17:00 al met die media sou praat nie. Ons was onder die indruk dat Engeland alles in die stryd sal werp om ’n groot voorsprong op die bou. Maar die ouens het hulself uitstekend van hul taak gekwyt en as ’n span moet ons hierdie oomblikke geniet.”

Op sy beurt meen Ben Stokes dat die groot nederlaag glad nie die einde van die wêreld vir Engeland is nie.

“Kapteins het al vantevore onder kritiek deurgeloop vir die wyse waarop hul spanne speel. Hierdie nederlaag is glad nie ’n wekroep vir ons nie; Suid-Afrika het net beter as ons gespeel.”

  • Opsomming van telkaart:

Engeland 165/10 in 45 boulbeurte: Ollie Pope 73, Kagiso Rabada 5/52 en Anrich Nortjé 3/63

Suid-Afrika 326/10 in 89,1 boulbeurte: Sarel Erwee 73, Marco Jansen 48 en Ben Stokes 3/71

Engeland 149/10 in 37,4 boulbeurte: Alex Lees 35, Anrich Nortjé 3/47 en Marco Jansen 2/15.

  • Stand van sake op die Wêreldtoetskampioenskap-punteleer:
  1. Suid-Afrika
  2. Australië
  3. Sri Lanka
  4. Indië
  5. Pakistan
  6. Wes-Indiese Eilande
  7. Engeland
  8. Nieu-Seeland
  9. Bangladesj.
  • Proteas se uitslae op Lord’s:

Suid-Afrika wen met 356 lopies

Suid-Afrika wen met tien paaltjies

Suid-Afrika wen met ’n beurt en 92 lopies

Wedstryd eindig onbeslis

Suid-Afrika wen met 51 lopies

Engeland wen met 211 lopies

Suid-Afrika wen met ’n beurt en 12 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Hoeveel kanse gaan Markram nog gegee word in toets krieket? Lyk my hys die kwota in ons toetsspan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.