Elgar in veglustige bui vóór eerste toets

Dean Elgar. Foto: Sanka Vidanagama/AFP.

Die Proteas hou daarvan om toetskrieket op Lord’s te speel. Sedert die Suid-Afrikaners se hertoetrede tot internasionale krieket het hulle vier van die ses toetse op dié ikoniese krieketveld gewen.

Daar was Kepler Wessels se honderdtal in 1994, Jonty Rhodes en Allan Donald se heldedade in 1998, Makhaya Ntini se tien paaltjies en Graeme Smith se 259 lopies in 2003, en Vernon Philander se akkurate boulwerk in 2012.

Nou moet Dean Elgar se span met ’n soortgelyke heldhaftige poging vorendag kom as hulle met Engeland in die eerste toets van die jongste reeks tussen die twee lande op Lord’s wil afreken.

Maklik sal dit beslis nie wees nie.

Onder Brendon McCullum en Ben Stokes geniet die Engelsmanne ’n aggressiewe herlewing, terwyl die Suid-Afrikaners ook harde bene in hul opwarmingswedstryd teen ’n Engeland A-span gekou het.

Maar in Dean Elgar het die Proteas ’n kaptein wat oor ’n baie goeie sportleierskap-eienskap beskik: Hy hou nie daarvan om te verloor nie.

“Dit gaan beslis ’n taai reeks wees,” het Elgar in ’n onderhoud met Cricinfo gesê.

“Engeland is ’n trotse krieketnasie en ek het respek vir hulle. Maar ek weet dat hulle beslis geklop kan word. Ek is nie hier om tweede viool te speel nie; ek is hier om ’n reeks te wen.”

Onder die hardebaard openingskolwer se toesig het die Suid-Afrikaners al met die Wes-Indiese Eilande, Indië en Bangladesj afgereken, terwyl hulle gelykop teen Nieu-Seeland weg van die huis gespeel het.

Die Proteas is tans eerste op die Internasionale Krieketraad se Wêreldtoetskampioenskap-punteleer.

Hy sien ook daarna uit om kaalvuis onder die Engelse boulers in te klim; selfs al het James Anderson en Stokes hom al ’n hele paar keer in die verlede uitgeknikker.

“Dit is beslis ’n uitdaging om teen hulle te speel, maar terselfdertyd maak dit my ook meer honger vir sukses. Ek immers in ’n tweestryd gewikkel teen van die beste Engelse boulers ooit.”

Volgens Elgar beskik die Suid-Afrikaners ook oor die spelers om in die helde van 1994 en 2003 se spore te volg.

“Hierdie is ’n groot reeks vir al 17 spelers in die span. Maar terselfdertyd is dit ook ’n geleentheid vir ons om goeie krieket te speel sodat ons ’n kans staan om Engeland op sy tuisveld te klop.”

Die eerste aflewering van die wedstryd word môre om 12:00 afgestuur en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Jongste uitslae op Lord’s:

Suid-Afrika wen met 356 lopies

Suid-Afrika wen met tien paaltjies

Suid-Afrika wen met ’n beurt en 92 lopies

Wedstryd eindig onbeslis

Suid-Afrika wen met 51 lopies

Engeland wen met 211 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Ek hoop hy kan vir n slag n “captains knock” speel van meer as 17 lopies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.