Elgar se kolfbeurt help wankelende Proteas herstel

Dean Elgar. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Dean Elgar. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Die Proteas het eers gestotter en toe goed herstel en het die eerste dag van die eerste kriekettoets teen Nieu-Seeland in Dunedin in ʼn redelike goeie posisie afgesluit.

Dean Elgar, met 128 nun, was die man vir wie Suid-Afrika in die eerste plek moet bedank dat hulle na 90 beurte 229/4 gehad het nadat hulle na die eerste 18 beurte op 22/3 gesteier het.

Die Proteas se kaptein Faf du Plessis (52) en Temba Bavuma (38 nun) moet ook op die rug geklop word dat hul span die dag in ʼn goeie posisie kon afsluit.

♦  Elgar se beurt was ʼn juweel. Hy is nie die soort speler wat ʼn boulaanval aan flarde sal skeur nie, maar het met sy bewese konsentrasie gekonsolideer en die losballe gestraf – en dit in só ʼn mate gedoen dat sy honderdtal 20 viere ingesluit het al is dit redelik stadig, in 197 balle, aangeteken.

Dit was sy derde honderdtal in sy laaste sewe toetsbeurte.

Elgar het een kans, op 36, gegee toe hy randjie aan die bykant bygekry het, maar die paaltjiewagter BJ Watling het die bal in die duikslag verloor.

♦  Die blad, wat aanvanklik effens klammerig maar stadig was, het kolfwerk moeilik gemaak – veral nadat die draaier Jeetan Patel na vyf beurte reeds die nuwe bal gekry het omdat Neil Wagner aanvanklik nie veel beweging uit die blad kon kry nie.

Patel het in sy eerste tien boulbeurte net agt lopies afgestaan en die Proteas werklik vir hulle lopies laat werk.

Na tien boulbeurte was daar net tien lopies op die telbord. Veral Trent Boult het die Proteas laat bontstaan en hy het ook die eerste paaltjie geneem toe hy Stephen Cook in die negende boulbeurt vir net drie lopies beenvoor betrap het (10/1).

Hashim Amla het vir 28 balle vir sy een lopie geskrop voordat hy in die 18de boulbeurt deur Wagner skoongeboul is en JP Duminy het in dieselfde boulbeurt sy handskoene by ʼn goeie opslagbal van die oud-Affie bygekry en is agter die paaltjies gevang (22/3). Hy het soos Amla net een lopie aangeteken.

Elgar het in hierdie moeilike tydperk walgegooi, goeie oordeel aan die dag gelê en die boulaanslag oorleef. Sy nuwe kolfmaat, Du Plessis, is ʼn man vir dié soort situasie en hy en Elgar het stadig maar seker die kolfbeurt begin herstel.

Du Plessis het sy 52 in 118 balle met sewe viere aangeteken en saam met Elgar het hulle vennootskap van 126 in 40 boulbeurte het die telling na 148/4 geneem.

Dit was in daardie stadium bloot ʼn goeie herstelpoging deur die Proteas maar nog geensins ʼn sterk posisie nie. Maar Bavuma, onder groot druk nadat hy in sy vorige sewe toetsbeurte net 21 lopies aangeteken het, was die regte man op die regte tyd saam met Elgar.

Na sy aanvanklike gesukkel om die veld te deurpriem, het die klein mannetjie aan die gang gekom en sewe goeie viere in sy 38 onoorwonne lopies geslaan. Hy en Elgar het ʼn baie waardevolle 81 lopies in hulle vennootskap om die vyfde paaltjie daargestel en daarmee gesorg dat Nieu-Seeland, na hulle vroeëre sukses, net ʼn enkele paaltjie, die van Du Plessis, in 71 beurte vir 207 lopies kon neem.

Wagner (2/59), Boult (1/44) en  James Neesham (1/29) het die paaltjies geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hans Schouwstra ·

Goeie regruk poging Proteas. Kan Supersport vir my sê waarom daar nie Afrikaanse kommentaar was nie vanoggend?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.