Elgar se vegtersbeurt was soos verwag tevergeefs

Dean Elgar – ‘n vegtersbeurt vir die fynproewer (Foto twitter @officialcsa)

Faf du Plessis het sy eerste toets as kaptein van die Proteas se toetsspan verloor toe Engeland soos verwag is Maandag die derde toets op die Oval beklink en ʼn voorsprong van 2-1 in die reeks van vier wedstryde geneem het.

Die onvermydelike het Maandag geëindig met nog meer as 50 boulbeurte in die verlengde dag se spel oor en ʼn agterstand van nog 239 lopies.

Dean Elgar, wat veral Sondag pimpel en pers geboul is en Maandag nog twee keer op sy vingers raakgeboul is, het Maandag met sy vegtersbeurt voortgegaan, sy honderdtal voor etenstyd insluitende 16 viere gekry en is uiteindelik op 136 (20 viere) uitgehaal.

Dit was ʼn beurt van toewyding, met min opwinding benewens ʼn paar baie goeie viere wat almal besef het eintlik geen verskil aan die uitslag sou maak nie. Maar vir die fynproewer was dít waaroor vyfdag-krieket gaan.

Hoed af vir hierdie agste honderdtal van Elgar.

♦  Moet Temba Bavuma ook nie vergeet nie. Hy het 97 balle aan sy 32 lopies gekolf en saam met Elgar 33 boulbeurte in hulle vennootskap van 108 lopies vasgebyt voordat hy halfpad deur die oggendskof uitgehaal is.

Met die volgende bal is Vernon Philander beenvoor betrap en halfpad deur die oggendsessie het Elgar saam met Chris Morris (24 in 52 minute) vasgeskop voordat hy met die laaste bal voor etenstyd uitgehaal is.

Met drie paaltjies wat in die oggend geval het was die Engelse slag gelewer en toe Elgar na 75.5 beurte op 252 op glip uitgehaal is (20 viere en 228 balle) was die wedstryd twee balle van sy einde met Ali wat toe vir Kagiso Rabada en Morné  Morkel albei met die eerste bal uitgehaal het.

Daar was so ʼn tikkie drama met Ali se derde paaltjie van hierdie driekuns. Hy het vir beenvoor geappelleer, dit is van die hand gewys, maar nadat die hersieningstegnologie nader getrek is, was Morkel duidelik uit.

Dit was die eerste driekuns deur ʼn draaibouler van Engeland sedert 1938/39 toe Tom Goddard dit in Johannesburg teen Suid-Afrika reggekry het.

Die telkaart en statistiek kan verkry word deur op die skakel te klik: http://www.espncricinfo.com/series/10718/scorecard/1031441/England-vs-South-Africa-3rd-Test-Basil-DOliveira-Trophy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Jy gaan nooit wen as jy nie aggresief speel nie die manne wil nie speel nie of daar is groot fout en ongelukkigheid onder die span ek dink ook dis die laaste van die afrigter en hulle weet dit maar sterkte vir die laaste toets nog nie verlore nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.